JOHANNESBURG. – Wynand Olivier word môreaand die sewende Bulls-speler wat die mylpaal van 100 Super-wedstryde bereik, in die kragmeting met die Cheetahs op Loftus Versfeld.
Hy is ook die eerste senter in Suid-Afrikaanse rugby wat dit vermag.
Hy het sy debuut in 2005 gemaak, as ’n plaasvervanger vir Pierre Spies teen die Highlanders.
Spies het toe nog as vleuel uitgedraf.
“Ek onthou daardie dag asof dit gister was,” het Olivier gesê.
“Ons het ’n groot drag slae gekry en ek moes myself omtrent uit my stewels verdedig.
“Dit gaan vir my ’n baie spesiale gevoel wees om Saterdag uit te draf. Om 100 wedstryde in ’n spesiale span soos die Bulls te kan speel, is vir my baie besonders.
“Daar was ook soveel hoogtepunte dat ek nie een wil uitsonder nie. Ek is baie bly dat ek hierdie oomblik voor my eie mense op Loftus kan ervaar en saam met soveel van my spesiale vriende in die span,” het Olivier gesê.
Spies het sy spanmaat geloof en gesê: “Om die prestasie van 100 wedstryde op 29-jarige ouderdom te kan regkry, is merkwaardig.
“Wynand is nog altyd ’n groot staatmaker in die middelveld en doen baie keer die harde werk wat ongesiens verbygaan.”
Frans Ludeke, die Bulls se afrigter, het gesê dié blondekop-senter bring bestendigheid aan die agterlyn en die energie wat hy uitstraal, is aansteeklik.
“Hy is ook ’n uitstekende baldraer en ek is baie bly dat hy in verlede week se toets teen Engeland (in Port Elizabeth) gewys het hy kan op die hoogste vlak sy stempel afdruk.”
Hy het die Springbokke ook al 37 keer verteenwoordig.
Volksblad