Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

ANC woedend oor Zuma-spotprent

Deur: Maryna Lamprecht 2012-07-06 21:52

JOHANNESBURG. – Die redakteur van die Mail & Guardian (M&G) het die koerant se besluit verdedig om ’n Zapiro-spotprent te publiseer waarin pres. Jacob Zuma as ’n penis met ’n stortkop op sy kop uitgebeeld word.

Die spotprent deur Jonathan Shapiro is gister gepubliseer met die woorde: “Hy is so ’n groot penis (dick) as wat ons gedink het!”

Nick Dawes, redakteur, het erken dit is dalk nie ’n “goeie” spotprent nie, maar gesê dit opsigself is nie genoeg rede om dit nié te publiseer nie. “Ek dink dit was ’n poging om redelike onbeskofte kommentaar oor die president te lewer. Dit is ’n heel ander beeld as The Spear en is bedoel om reaksie uit te lok.”

Hy het gesê die gesprek oor The Spear het op ’n intimiderende noot geëindig en dit is waarop die tekening sinspeel. Hy het gesê die M&G het nog nooit ’n spotprent van Zapiro gesensor nie en sal dit nie maklik oorweeg nie. “Hy het aansienlike vryheid. Ons lesers verwag dat hy dit gegun word. Natuurlik kan ons besluit om sy werk nie te publiseer nie, maar dit sal nie maklik gebeur nie.”

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het gesê die spotprent is “blatant rassisties” en seksisties en dui op Zapiro se obsessie met manlike geslagsdele.

“Om van iemand ’n bespotting te maak in ’n (sensitiewe) samelewing soos ons s’n, is nie vryheid van uitdrukking nie, dit is opsetlik. Dit weerspieël die obsessie met haat vir pres. Zuma as persoon.”

Die ANC het in ’n verklaring gesê die “sogenaamde spotprent” is “vernederend en beledigend” vir Zuma, sy familie en die party.

Die ANC dring daarop aan dat Zapiro “aan pres. Zuma, sy familie, die ANC en die hele Suid-Afrika” om verskoning vra en die M&G die tekening van sy webwerf verwyder.

“As die ANC sal ons nie rus nie totdat Zapiro, die M&G en ander soos hulle ten volle besef hul sogenaamde joernalistieke kreatiwiteit is skadelik vir eenheid en kohesie in die land,” lui die verklaring.

Die ANC-vroueliga het gesê die spotprent is “walglik” en “swak smaak”. Dit is ’n duidelike poging om verdeeldheid in ons samelewing aan te moedig en behoort deur alle trotse Suid-Afrikaners veroordeel te word, ongeag hul ras of politieke verbintenis.”

Die presidensie het gesê dit is “vernederend” en moet onttrek word. Volgens Mantashe oorweeg die ANC regstappe, maar vrees dit sal vir Zapiro verdere publisiteit gee.

Volksblad
«Terug