Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Aanloop tot mynslagting [Lonmin]

Deur: Jan de Lange 2012-08-17 22:46
MARIKANA. – Die groep van 3 000 stakende rotsbooroperateurs van Lonmin was bereid om hul wapens neer te lê en daarsonder die klipkoppie te verlaat waar hulle geskuil het, mits Lonmin bereid was om oor loonverhogings te onderhandel.

Hulle het dié onderneming Woensdagaand aan Joseph Mu-thunjwa, president van die Associated Mining & Construction Union (Amcu), gegee.

Muthunjwa en twee van sy vakbonde se ampsdraers was drie keer op die koppie waar die rotsbooroperateurs hulselfs verskans het – die eerste keer onder polisie-begeleiding, maar die tweede en derde kere op hul eie om die werkers mee te deel dat hul werkgewer geen ondernemings aan hulle gee nie en dat hulle hul wapens moet neerlê en die koppie verlaat.

Die stakende werkers het die onderneming Woensdagaand ná donker aan Muthunjwa gegee. Hy het dit dieselfde aand in die polisie se bevelspos naby die koppie oorgedra, waar ooreengekom is dat Lonmin se bestuurders hom die volgende oggend omstreeks 08:00 opdragte oor die hervattingsprosedures sou gee wat hy aan die werkers kan oordra.

Die volgende oggend was die bestuurders, Barnard Mokwena en Jomo Kwadi, aanvanklik nêrens te vinde nie.

Toe hy ure later met hulle kon praat, was hulle nie bereid om enige ondernemings oor toekomstige onderhandelinge deur die bestaande NUM-vakbondstrukture te gee nie.

Muthunjwa se emosies het met die vertelling verskeie kere die oorhand oor hom gekry – veral toe hy begin vertel hoe hy ná ure se gesukkel en besluitloosheid deur Lonmin se menslikehulpbron-afdeling, verwyte en ’n verskreeuery deur toppolisie-offisiere eergistermiddag op sy eie terug is na die koppie waar die stakers wag om aan hulle te gaan vertel dat die bestuur geen ondernemings aan hulle gee nie.

“Ek het op my knieë by hulle gepleit...asseblief, kom weg van dié plek af...hierdie mense gaan julle doodmaak...,” het Mu-thunjwa gesê en weer begin huil.

“Hulle het gesê hulle gaan nie die koppie verlaat nie – as hulle doodgemaak word, moet die polisie dit daar kom doen waar hulle wag,” het Muthunjwa vertel.

Muthunjwa het benadruk dat die twis oor verteenwoordiging ’n interne saak in die National Union of Mineworkers (NUM) is dat Amcu geen formele verteenwoordiging in Lonmin se Marikana-afdeling het nie.

Muthunjwa het die koppie verlaat nadat hy nie die werkers kon oorreed nie. Hy het nie die skietery gesien gebeur nie.
«Terug