RUSTENBURG. – Toe Angus Buchan Saterdag op ’n versoeningsaamtrek op Rustenburg ’n tweejarige meisie op sy heup tel, het dié prentjie op ’n manier dalk meer gesê as duisend woorde.
Buchan was die hoofspreker op New Beginnings, ’n saamtrek wat weens die Marikana-slagting deur plaaslike kerkleiers gereël is met die oog op herstel, versoening en herlewing in hul gemeenskap.
Hy het in sy preek hard gepraat. Mynbase moenie gulsig wees nie en hul werkers behoorlik betaal.
Werkers moet hul wapens neerlê, teruggaan werk toe en hard werk om meer te produseer sodat hulle meer betaal kan word, het hy gesê.
Die onderliggende boodskap was dat die verskillende groepe nie net aan hul eie belang moet dink nie, maar ook aan mekaar s’n.
Teen die einde van sy sessie, toe hy mense gevra het om van die paviljoene te kom en in berou voor God op die atletiekbaan te kom staan, het hy klein Jordan Pretorius op sy heup getel.
Hy ken nie haar agtergrond nie, het hy later gesê. Sy was maar daar op die verhoog en hy het haar opgetel.
Dit is nie vir hom vreemd nie. Hy het immers op die plaas Shalom naby Greytown ’n weeshuis met 27 Zoeloe-kinders.
By Jordan se aanneemma, Charné Pretorius, hoor ’n mens egter ’n hartroerende verhaal van dié kleuter met die groot, blink oë.
As baba is sy deur haar biologiese ma weggegooi. Sy is in ’n kartondoos gekry en niks van haar familiegeskiedenis is bekend nie.
Charné en haar man, past. Bert Pretorius van die 3C-kerk in Centurion, het haar aangeneem. Sy is een van hul drie swart aangenome kinders. Hulle het ook drie van hul eie.
Charné sê daar is wit kinders vir aanneming beskikbaar en hulle kry gewoonlik gou huise.
Die nood vir kinders soos Jordan is groot. Sonder ’n familiegeskiedenis is die kans dat hulle aangeneem word, bitter klein.
Daarom het sy en Bert hulle oor Jordan ontferm.
Sonder dat hy dit besef het, het Buchan waarskynlik met Jordan in sy arms, en sy later langs hom toe hy op die verhoog kniel, een van die sterkste visuele seine uitgestuur om die tema van die dag uit te lig: ’n Nuwe begin.
Dít is waarvoor meer as 20000 mense – wit, swart, jonk en oud van Rustenburg en elders – na die Olympiaparkstadion opgetrek het.
Om by God te pleit om ’n nuwe begin vir hulself, Rustenburg, Marikana en omstreke, die mynbedryf en Suid-Afrika.
Hulle het gepleit om ’n toekoms waarin mense oor grense heen na mekaar uitreik en uit hul gemaksones klim om die land waarvan hulle droom, ’n werklikheid te maak.