Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Beamptes werk weer

Deur: Marlene Jordaan 2013-01-08 05:55

KROONSTAD. – Die twee verkeersbeamptes wat na bewering ’n boer van die distrik aangerand en met ’n mes gedreig het, is in hul interne dissiplinêre verhoor by die Moqhaka-munisipaliteit onskuldig bevind.

Hulle was intern aangekla van beweerde onprofessionele gedrag en omkopery. Dit het gekom nadat die twee beamptes die boer Justice Malanot na bewering aangerand het en een hom met ’n mes gedreig het, toe hy hulle wou afneem vir beweerde omkopery.

Volksblad het die foto’s gepubliseer ná die voorval.

Volksblad verneem een van die beamptes, Joseph Sefatsa, is nou ook tot inspekteur bevorder.

Hy en die ander beampte, Eric Baba, is terug by die werk.

Malanot gaan nou ’n siviele eis teen die munisipaliteit en die twee verkeersbeamptes instel.

Hy loof ook ’n beloning van R50000 uit aan enigiemand binne die munisipaliteit wat met bewyse van korrupsie en omkopery teen enige hooggeplaaste amptenaar vorendag kom, of wat verband hou met dié saak, sê hy.

Hy sê dit wil voorkom of binnegevegte en ’n gebrek aan leierskap in die munisipaliteit, asook die mag van vakbonde, dit onmoontlik maak om van enigiemand in die munisipaliteit ontslae te raak, en dat dit is wat met dié saak gebeur het.

“Die probleem is dat die Vrystaat se provinsiale politieke ANC-binnegevegte die Moqhaka-munisipaliteit verlam het.”

Volksblad het met ingeligtes gepraat, en almal is dit eens dat dit blyk of een van die beamptes beskerming van iemand in ’n hoë pos geniet. Hy blyk uiters ongewild onder vredesbeamptes, geregsdienaars en ander amptenare te wees. Dit blyk ook mense is baie bang vir hom.

Volksblad het verskeie pogings aangewend om ’n afskrif van die uitspraak in die verkeersmanne se interne verhoor te kry.

Die voorsittende beampte wat dit waargeneem het, adv. Mosebetsi Mofokeng, hoof van regsdienste by die Nketoana-munisipaliteit, het gesê slegs die munisipale bestuurder van Moqhaka, Mncedisi Mqwathi, mag die uitspraak aan die media beskikbaar stel.

Volgens hom mag die uitspraak slegs openbaar gemaak word met die toestemming van alle betrokke partye, omdat dit ’n interne verhoor is. Herhaaldelike e-posnavrae aan Mqwathi is nie beantwoord nie.

Mandisa Titi, munisipale woordvoerder, het gesê sy sal dit by die arbeidsbetrekkinge-afdeling opvolg en terugvoering gee.

Die strafregtelike verhoor van die twee beamptes weens dieselfde voorval begin op 18 Januarie in die distrikshof op Kroonstad. Hulle moet teregstaan op aanklagte van beweerde aanranding en omkopery.

’n Landdros moes van buite die dorp gereël word omdat ’n plaaslike landdros om etiese redes nie die verhoor kon waarneem nie.

Volksblad
«Terug