Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Bekende sakeman ernstig beseer

Deur: Tom de Wet 2012-08-22 22:07

KROONSTAD. – Benji Dell (77), bekende sakeman van Kroonstad en een van die grootste veteraanmotorversamelaars in Suid-Afrika, is baie ernstig beseer in ’n ongeluk op die hoofweg buite dié dorp.

Die bestuurder van die ander motor, ’n man van Zimbabwe, is op slag dood in die botsing gister omstreeks 06:30.

Die polisie ondersoek bewerings dat dié man by ’n afrit op die N1-hoofweg reg voor Dell ingery het. Dell was vir sake na Johannesburg onderweg.

Hy is ná die ongeluk per helikopter na die Life-Rosepark-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.

Sy een dogter, Gillian, het gister by die hospitaal gesê hy is in die intensiewesorgeenheid. Sy toestand is ernstig en hy het onder meer hoofbeserings opgedoen.

Een van haar susters was gister van Mauritius na Suid-Afrika onderweg. Haar ma, Antoinette, en haar ander suster en broer is ook gister na Bloemfontein om hul pa by te staan.

Dell is onder meer direkteur van die bekende Shaw-groep waarvan die hoofkantoor op Kroonstad is.

• Twee mense is net ure tevore in ’n ander ongeluk op die pad tussen Kroonstad en Vredefort beseer.

Die bestuurder van die motor het vermoedelik op ’n gruisgedeelte van die pad beheer oor die motor verloor, waarna dit omgeslaan het.

Jeffrey Wicks van Netcare 911 sê hulle het die twee insittendes op die toneel gestabiliseer voordat hulle na die Boitumelo-hospitaal op Kroonstad gebring is. Die passasier se toestand is kritiek.

Volksblad
«Terug