’n SKOOLHOOF van Bloemfontein sal vandag meer as net ’n toeskouer wees as die Springbokke die Engelse in Port Elizabeth die stryd aansê.
Wanneer die skeidsregter “Time off” en “Time on” oor die radio sê, gaan hy met Albert Mocke, skoolhoof van die Hoërskool Rosenhof in die stad, praat.
Mocke, voorsitter van die Vrystaatse Rugbyskeidsregtersvereniging, doen vandag diens as die amptelike tydhouer by die derde toets tussen die Springbokke en die Rose.
“Dit is ’n groot voorreg. Dit is lekker om erkenning te kry en ek sien uit na die wedstryd en die vibe.”
Mocke, wat al voorheen deel van internasionale wedstryde was, sê hy sien uit daarna om betrokke te wees by die toets.
Hy het voorheen ook al tyd gehou by ’n Britse Leeus-toer en talle Superrugby-wedstryde.
Die wedstryd tussen die Bulls en die Crusaders twee jaar gelede in Soweto se Orlando-stadion bly een van sy hoogtepunte, sê hy.
“Dit is lekker om deel van die wedstryd te wees, met die skeidsregter in kontak te wees en meer as ’n toeskouer te wees.”
Volgens hom is dit ’n groot verantwoordelik om een van die skeidsregters se helpers te wees.
Dit verg baie konsentrasie, want hy is ook verantwoordelik vir die stadion se horlosie en sal die skeidsregter in die doodsnikke van die wedstryd laat weet hoeveel tyd oor is.
En nee, hy sal nie die sirene voor die tyd laat afgaan as die Springbokke voorloop nie.
Volksblad