PRETORIA. – Twee voormalige weermag-majoors en ’n verkoopsman met die “oorlogsnaam” KGB is gisteroggend in ’n japtrap in die hooggeregshof in Pretoria aan hoogverraad skuldig bevind.
Jacques Olivier (oudmajoor van die Lohatlha-weermagbasis), Pieter van Deventer (oud-majoor en regsoffisier van Bloemfontein) en Fritz Naudé van Bethlehem, wat plaaswerktuie verkoop het, het as Boeremaglede saamgesweer om die regering omver te werp.
Regter Eben Jordaan het gesê Olivier en Van Deventer, wat as weermagoffisiere trou aan die republiek gesweer het, was verplig om die staatsgreepplan aan te meld, maar het nie.
Naudé het in 2002 die “aartappelskuur-vergadering” op Bethlehem bygewoon waar Mike du Toit aangekondig het Tom Vorster gaan as die organisasie se militêre leier by hom oorneem, het die regter gesê.
Du Toit en Vorster is albei beskuldigdes.
Die organisasie is toe as die Boeremag bekend gestel en Vorster het gesê die Vierkleur gaan hul vlag wees.
Almal op die vergadering moes ’n eed aflê. Elkeen het sy “skuilnaam en magsnommer” bekend gestel.
Naudé het die “oorlogsnaam” KGB gekies, wat voor in sy “oorlogsboekie” aangeteken is.
Jordaan het gesê op drie vergaderings is die “verraaiers” van die Boeremag, soos J.C. Smit (’n polisie-informant), bespreek.
Smit se oorlogsnaam was Motherf***er.
Naudé is op een van dié vergaderings as die “hoofregter” aangestel.
Lohatlha sou weens sy toerusting een van die hoofbasisse in die staatsgreep wees, het die regter gesê.
Olivier het ’n kaart van Lohatlha beskikbaar gestel.
Die dokumente wat hy beskikbaar gestel het, het die basis se ligging en die gebied rondom, soos die koppies en rante, getoon.
Jordaan het gesê Smit het in die verhoor vir die staat getuig Olivier was in beheer van voorraadopname by die basis.
Dit was óf Naudé of Dion van den Heever (ook ’n beskuldigde) wat volgens Smit gesê het die basis is op die 15de van elke maand – op betaaldag – op sy kwesbaarste.
Van Deventer het op ’n teikengeoriënteerde vergadering by Gariepdam oor gevegsvoertuie en slagpenne gepraat, het die regter gesê.
Op dié vergadering is gesê: “Almal sou weet dat die staatsgreep begin het.”
Van Deventer het oor die gevegsvoertuie gepraat in ’n gesprek oor die “chaos” wat veroorsaak sou word.
Dit is volgens Jordaan duidelik dié vergadering het oor die staatsgreep gegaan.
Van Deventer het ook ’n SMS oor offensiewe beplanning aan Smit gestuur.
Die uitspraak word vanoggend hervat.
Nege van die 20 beskuldigdes is tot dusver skuldig bevind.
Volksblad