DIE werklose Bernard Koekemoer (30), wat die afgelope naweek na bewering meer as R2miljoen geëis, ’n brand gestig en gedreig het om bomme in die Mediclinic Bloemfontein te laat ontplof, is onder sielkundige behandeling waarvoor hy medikasie gebruik.
Sy verhoor is gistermiddag in die Bloemfonteinse landdroshof tot 9 Julie uitgestel. Hy is op versoek van die staat vir ’n kort sielkundige waarneming verwys. Hy word in die polisieselle op Bainsvlei aangehou.
Hy het voor landdros G. Yako gesê hy is in 2003 as ’n skisofreen gediagnoseer en in 2007 met bipolêre gemoedsversteuring en hy gebruik medisyne daarvoor.
Koekemoer van Brebnerstraat, wat die afgelope vyf maande werkloos is, is vroeg vanjaar in die Bloemcare-hospitaal opgeneem en is sowat twee weke gelede in dieselfde Mediclinic behandel – wat hy glo die afgelope naweek gedreig het om op te blaas.
Volksblad verneem hy was glo baie ontsteld omdat vir sy vrou, ’n administratiewe klerk van Mediclinic, twee onbetaalde vakansiedae aangeteken is omdat haar siekteverlofdae op was. Sy is steeds op siekteverlof nadat sy sowat vier weke gelede ’n operasie ondergaan het.
Hy was glo baie bekommerd of hulle as gevolg daarvan genoeg geld vir die maand gaan hê.
Vrydagaand is ’n brand in die blok waar die hospitaal se dokterspreekkamers is met ’n ontvlambare vloeistof in ’n bottel gestig. Dit is gou deur die veiligheidsmanne en ander personeel van die hospitaal geblus.
Saterdagoggend vroeg het ’n man die hospitaalbestuurder gebel en gesê hy het verskeie bomme in die hospitaal geplant en gaan dit aktiveer indien die hospitaal nie aan sy eise voldoen nie.
Hy wou dadelik R400000 hê en teen gister ’n verdere R2miljoen.
Hy het gewaarsku dat hy die hospitaal dophou en as die polisie betrek word, sal hy die bomme laat afgaan.
Polisiebeamptes in private klere is intussen in die hospitaal in waar geen bomme gevind kon word nie.
Die man het glo verskeie kere na die hospitaal gebel en eise oor die geld gestel.
Later Saterdagmiddag het een van die personeellede van die hospitaal die man glo uitgeken waar hy naby die hospitaal geloop het as die een van wie foto’s van die hospitaal se veiligheidskameras afgedruk was.
Hy is toe deur die polisie in hegtenis geneem, verneem Volksblad.
Volksblad