JOHANNESBURG. – Die Krugerwildtuin se veeartse gaan vandag tussen 125 en 150 buffels van kant maak as deel van die finale navorsingsprojek oor beestuberkulose.
Dié siekte is hoogs aansteeklik en groot bevolkings buffels in die wildtuin is reeds daarmee besmet.
Die wildtuin se skakelafdeling het gister in ’n verklaring gesê die navorsingsprojek oor beestuberkulose onder die wildtuin se buffels het vier jaar gelede begin. Altesaam 200 buffels is in dié tyd van radio-halsbande voorsien sodat hulle die hele tyd dopgehou en gemonitor kon word.
Hulle is sedertdien elke ses maande gevang en bloedmonsters is van hulle getrek. Daar is ook noukeurig boekgehou van hul kondisie.
Tussen 125 en 150 van die buffels wat deel is van die projek, sal vandag van kant gemaak word sodat volledige outopsies op hulle gedoen kan word.
Die uitheemse siekte het in die 1950’s vastrapplek in die wildtuin gekry toe buffels by die wildtuin se grens in aanraking gekom het met beeste wat daarmee besmet was.
Dié siekte hou ’n ernstige bedreiging vir die biodiversiteit van die wildtuin in.
Die eerste buffel is in 1990 in die wildtuin aan die siekte dood. Dit was ’n tweejarige kalfie.
Die siekte het in die suide van die wildtuin begin en ses jaar gelede is vier besmette buffels aan die noordelike grens opgemerk.
Die siekte is ook intussen in 12 dierespesies, waaronder leeus, jagluiperds, luiperds, hiënas, koedoes, rooibokke, vlakvarke, bobbejane en ratels opgemerk.
Luidens die verklaring sal die projek tot middel Augustus duur en dit is rondom Laer-Sabie en Krokodilbrug gesentreer.
Volksblad