Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Butler dalk ‘oor skuld vermoor’

Deur: Mike van Rooyen 2012-08-20 21:43

DIE vermeende moordenaar van die bekende Bloemfonteinse ontwikkelaar mnr. Don Butler (54) was kwaad oor geld wat Butler hom geskuld het. Hy sou skiet om sy geld terug te kry, is gister in die Vrystaatse hooggeregshof getuig.

Abel Khalinyane (52) het gesê dat Butler hom R3 miljoen skuld en dat hofprosedures om die geld te kry, te lank vat, het Nico Kil­lian gister voor regter M.H. Rampai getuig.

Khalinyane, wat tot 2002 ’n vennoot van Butler in die beslote korporasie RADM-konstruksie was, het gister ontken dat hy gedreig het om Butler dood te maak. Hulle was tot sy dood nog vriende.

Khalinyane ontken dat hy Butler gister, presies twee jaar gelede, vroegoggend vermoor het deur hom by RADM se hek in Ooseinde, Bloemfontein, dood te skiet.

Killian, wat ook in die boubedryf is, het getuig dat hy en Khalinyane sake gedoen het en vriende is. Khalinyane het met hom oor sy probleme gepraat. Hy het op ’n dagvaarding gesien dat Butler vir R3 miljoen gedagvaar is. Hy het voorgestel dat hy as tussenganger die saak tussen die twee beredder. Hy het gevra of Khalinyane met R1 miljoen tevrede sou wees.

Khalinyane was egter vasberade om R3 miljoen te kry. Hy was ook desperaat om die geld te kry. Toe Khalinyane van skiet praat, het Killian gesê: “Moenie so praat nie.”

Killian het getuig dat Butler vir Khalinyane kontant, ’n bakkie en ander goed gegee het as ’n finale skikking vir sy aandeel in RADM.

Khalinyane het gister getuig hy en Butler is uitmekaar omdat Butler goed gedoen het waarmee hy nie saamgestem het nie. Hulle het ’n skikking bereik

Hy weet niks van die R3 miljoen waaroor Killian getuig het nie. Hy het ook nie gedreig om Butler dood te maak nie.

Hy het die aand voor Butler se dood op Springfontein oornag en is toe na Colesberg. Hy was dus nie die oggend van die skietery op die moordtoneel nie. Hy het nie ’n grief teen Butler gehad nie en het hom nie doodgemaak nie. 
«Terug