Volksblad

Cameron en Chad het skare gaande

Deur: Pauli van Wyk 2012-08-09 23:18

JOHANNESBURG. – Cameron van der Burgh sal met sy Olimpiese goue medalje om sy nek slaap as dit moet, maar diewe beter hulle hande daarvan afhou, het hy gister gesê.

“Ek het reeds verskeie aanbiedinge ontvang om dit in die bank te bêre,” het hy gister skertsend aan Volksbladvertel.

Van der Burgh en sy spanmaat Chad le Clos, wat elk ’n goue medalje in Londen verower het, het gisteroggend ’n helde-ontvangs op die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg gekry nadat hul vliegtuig omstreeks 07:00 geland het.

Die twee was beslis die grootste aantrekkingskrag, al was ander lede van die swemspan daar, en honderde jillende meisies en ondersteuners het plakkate en swemkappies rondgewaai om geteken te word.

In Mei, op Van der Burgh se verjaardag en enkele dae voordat hy na Europa op ’n oefenkamp sou vertrek, het boewe by die Van der Burgh-gesin se huis in Waterkloof Glen, Pretoria, ingebreek en die meeste van sy medaljes en trofeë gebuit. “Maar dié een het opgemaak daarvoor. Die goue medalje sal waarskynlik ’n miljoen ander vervang. Ek sal rêrig baie mooi daarna kyk.”

Op die nuuskonferensie het Van der Burgh aangedaan geraak toe hy vertel hoe hy sedert sy skooldae sy selfoon se PIN-kode as 2012 ingetik het: “...die jaar wat ek die Olimpiese Spele wou bywoon. Nou het ek my droom bewaarheid.”

Ook sy pa, David, het tranerig geraak toe hy van sy seun se sukses vertel.

“Ek en Beverly, my vrou, was daar. Dit was ’n naelbytstryd, die wonderlikste ervaring om hom te sien wen. Cameron werk al 14jaar lank aan sy droom.”

Hy en Le Clos het hul ondersteuners verras deur ’n oomblik lank hul gespierde mae te wys.

’n Oorverdowende lawaai het gevolglik losgebars.

Le Clos, wat sy held Michael Phelps in die 200m-vlinderslag geklop het, het gesê die Amerikaner sal altyd sy held bly.

“Maar om hom te klop was die mees oorweldigende gebeurtenis van my lewe.”

Van die ondersteuners op die lughawe het vuvuzelas geblaas, ander het plakkate gedra met boodskappe aan hul helde daarop en trots die Suid-Afrikaanse vlag gewaai.

’n Meisie in die skare het ’n plakkaat gedra wat lui: Chad will you be my matric dance date?

Bewonderaars het die twee swemhelde oorval met gelukwensinge en ander, wat nie by Le Clos en Van der Burgh kon uitkom nie, het begin huil.

Al die aandag het hulle met tye duidelik oorweldig gelaat. Die swemspan het die lughawegebou later onder sterk polisiebegeleiding verlaat.

Volksblad
«Terug