KAAPSTAD.–Die ANC se grootste alliansievennoot, Cosatu, sê die ANC moet ophou met mooi woordjies en begin doen wat hy onderneem om te doen.
Cosatu het gister gereageer op die ANC se beleidsdokumente, wat volgende week in Johannesburg op die ANC se beleidskongres bespreek word.
Cosatu sê die ANC se swak rekord van beleidstoepassing bedreig die toekoms van die party.
“Terwyl die ANC propvol idees is, is die grootste uitdaging vir die ANC sy toepassing van besluite wat geneem is en om die politieke wil te hê om politiek en moreel korrek op te tree,” lui die Cosatu-dokument.
Cosatu bespreek in die 79 bladsy lange dokument onder meer die ANC se rekord van korrupsie, interne leierskapstryde en nasionalisering.
Hy herinner die ANC daaraan dat korrupsie al jare lank uitgewys word as ’n voorkeursaak, maar sonder dat veel daaraan gedoen word.
“Die ANC moes al vyf jaar ná demokrasie gereageer het op groeiende kommer oor korrupsie in eie geledere.
“Met die tweede nasionale verkiesing het die ANC gesê hy sal streng maatreëls instel om korrupsie te stop en weer in die 2009- verkiesingsmanifes het die party vyf prioriteite gehad wat ingesluit het om misdaad te bekamp en om korrupsie uit te roei.”
Wat betref leierskap in die ANC, sê Cosatu die ANC-leiers raak ál meer verwyderd van die man op straat.
“Daar is ’n maatskaplike afskorting tussen ANC-kaders wat die sleutelposte vul van raadslede tot ministers, en die massa ANC-ondersteuners en die breë samelewing daarbuite. Die ANC is reeds in 1997 hierop gewys, dog neem dit toe.”
Oor nasionalisering sê Cosatu hy het reeds in 1992 sleutelgebiede geïdentifiseer wat genasionaliseer behoort te word.
“Dit sluit in dat die regering moet terugkeer tot die Vryheidsmanifes wat eis dat monopolistiese nywerhede soos mynbou en banke genasionaliseer moet word.
“Ander sleutel-ekonomiese bates, soos minerale en telekommunikasiebedrywe, moet ook genasionaliseer word,” stel die Cosatu-dokument voor.
Cosatu sê die ANC het nou ’n verandering van ingesteldheid nodig en nie nog mooi woorde nie.
“Die ware toets lê in die vermoë van die ANC om sy eie besluite toe te pas. Tot dusver is ons net hoë ideale aangebied sonder gepaardgaande aksie.
“Die sleutel tot die toekoms van die ANC lê in die party se vermoë om vorige resolusies toe te pas,” sê die Cosatu-dokumente.
Patrick Craven, Cosatu se woordvoerder, het gister gesê die dokumente is besprekingsdokumente en moet nie noodwendig beskou word as kritiek op die ANC nie.
“Die ANC het sy dokumente uitgereik. Nou het ons óns dokumente uitgereik. Volgende week sal die dokumente bespreek word en dan sal ons saambeweeg na een gekonsolideerde uitkoms,” het Craven gesê.
Hy het gesê dis nie verkeerd om te verskil met die ANC nie.
Volksblad