Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Dertig agter tralies ná geweld

Deur: Estée de Villiers 2012-06-28 22:55

MINSTENS 30 mense is agter tralies nadat xenofobiese geweld in Botshabelo uitgebreek het.

Een buitelander se winkel is afgebrand en vyftien ander s’n is geplunder.

’n Oproerige skare het verwoesting in sewe seksies van Botshabelo gesaai.

Konst. Consolation Mokoale, polisiewoordvoerder, sê die oproer het eergisteraand reeds begin en gister heeldag voortgewoed. Gisteraand moes ekstra polisiebeamptes hier ontplooi word.

“Dit is dade van xenofobie omdat slegs winkels van Bangladesjers en Ethiopiërs aangeval is.”

Buthi Koto (57), wat sy winkel aan Bangladesjers uitverhuur, is aangerand en sy winkel is geplunder en uitgebrand.

Sy winkel, Ebene’zer Tuck Shop, is gister in die vroeë oggendure vermoedelik met ’n petrolbom gegooi. Plunderaars het toe deur ’n gat in die muur geklim en alles in die winkel gesteel.

Imam Hossin, ’n winkeleienaar in die N-seksie, sê sy winkel is deur ’n skare aangeval en goed van R60000 is gesteel.

“Die mense het klippe en bakstene gegooi. Hulle het alles gevat. Ons het niks verkeerd gedoen nie.”

Die polisie het buitelandse winkeleienaars gister gehelp om hul winkels te ontruim.

Van die buitelanders het in die polisiekantoor geskuil.

Rayhan Sazzad sê sowat 200 mense het probeer om by sy winkel in te breek. Hulle kon die staaldeure gebuig kry, maar kon dit nie afbreek nie.

Die polisie is ontbied om die skare te keer, terwyl Sazzad die goed uit sy winkel op vragmotors gelaai het. Die polisie het traangas gebruik om die skare in bedwang te bring.

Richman Mohlomi, sekretaris van die Botshabelo-tak van die ANC, sê egter “die polisie was net hier om mense te skiet”.

Hy sê die 81-jarige Malita Bokako is deur traangas getref en die polisie was traag om vir haar mediese hulp te kry nadat sy flou geword het.

“Dit is waar ons begin kwaad word het vir die polisie. Dit kom voor asof hulle dié ding geniet. Hulle het (Andries) Tatane aspris doodgeskiet en nou probeer hulle die ou vrou doodskiet.”

Polisiebeamptes het teen gisteraand steeds hul hande vol gehad om die inwoners in bedwang te bring.

Gister se geweld volg op oproerigheid wat eergister uitgebreek het nadat die Mangaung-metro-munisipaliteit ’n informele nedersetting in die sakekern platgestoot het.

Volksblad
«Terug