Volksblad

Die Spies: Nuutste oor grootse verfherrie

Deur: Verslagspan 2012-05-23 08:00

JOHANNESBURG. – Barend la Grange van Kemptonpark, wat gister rooi kruise oor pres. Jacob Zuma se geslagsdele en gesig in Brett Murray se skildery getrek het, word deur diegene wat hom ken as ’n “belydende Christen en ’n getroue lidmaat van die kerk” beskryf.

Hy en sy medebeskuldigdes, Lowie Mabokela en George Moyo, verskyn vandag in verskillende landdroshowe in die stad nadat hulle gistermiddag by die Goodman-galery in Rosebank rooi en swart verf oor ’n skildery van Zuma deur die Kaapse kunstenaar Brett Murray geverf het.

“Ek weet nie hoekom my pa dit gedoen het nie,” het La Grange se seun, wat nie sy voornaam wou gee nie, gisteraand laat by die Rosebank-polisiekantoor gesê. Hy het baie ontsteld voorgekom.

“Ons is almal geskok... Ons kan net bespiegel oor wat sy redes was. Dit kan wees dat hy nie met Zuma se leefstyl saamstem nie en dalk só sy stem daaroor wou uitbring,” het ’n nabye kennis van La Grange gisteraand gesê.

e.TV was by die galery toe die vandalisme gepleeg is en het ’n video daarvan geneem wat hulle uitgesaai het. Die kennis van La Grange het hom op TV geëien.

Die drie mans het gister net ná 11:00 by die Goodman-galery ingestap. Volgens ooggetuies het hulle hardop kommentaar oor die reeks Hail to the Thief II gelewer voordat hulle voor The Spear gaan staan het.

La Grange het ’n klein potjie rooi verf uitgehaal en ’n kruis oor Zuma se geslagsdele en gesig geverf. Daarna het Mabokela met sy hande swart verf oor die skildery begin smeer.

Die derde man is in hegtenis geneem toe hy later met ’n spuitkannetjie ’n muur buite die galery beverf het. (Nog berigte op bl. 7.)

“Hy is ’n betroubare man met integriteit,” het die kennis oor La Grange gesê.

Xolani Mofokeng, La Grange en Moyo se regsverteenwoordiger wou nie sê hoeveel borgtog sy kliënte moes betaal nie, maar het gesê dat hulle gisteraand sou huis toe gaan.

Mabokela word deur Krish Naidoo verteenwoordig. Teen druktyd was sy familie besig om geld vir sý borgtog bymekaar te kry.

Volgens Naidoo was al drie mans se borgtog R4000.

Die Goodman-galery is vir eers gesluit. Die skildery is na ’n veilige plek buite die galery geneem, het Lara Koseff, galery-woordvoerder, gesê.

Liza Essers, eienaar van die galery, sê “die vlak van woede het my verbaas en vreeslik ontstel”.
– Charlea Sieberhagen, Lourensa Eckard en Janice Keogh

Volksblad
«Terug