Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Emsie gee etiketraad vir die feestyd

Deur: Lourensa Eckard 2012-12-24 05:55

JOHANNESBURG. – “Sorg dat niemand gekoring word nie.”

Dit is volgens Emsie Schoeman, etiket-kenner, die voorste plig van enige gasheer of gasvrou in die feestyd.

Schoeman, wat in Wildernis in die Wes-Kaap woon, sal Kersfees en Nuwejaar by haar familie in Gauteng deurbring.

Die feestyd kan ’n mynveld wees van etiketflaters, meen Schoeman.

“Dit gasvrou en gasheer moet leiding neem.

“Moenie gaste te lank laat wag vir hul kos nie, want dan is die waarskynlikheid dat hulle gekoring gaan word groter. Sorg dat daar ’n vetterige voering is vir hul mae.

“Gaste moet ook onder geen omstandighede hul eie drankies skink nie,” het Schoeman gesê.

’n Gasheer of gasvrou moet altyd ’n lekker storie gereed hê.

“As jou gaste aanhoudend kerm en kla oor die een en daardie een wat op hul sterfbed is, of wat sieklik is, moet ’n gasheer of gasvrou gereed wees om die gesprek te lei met ’n interessante storie.”

Volgens Schoeman is dit aanvaarbaar om ’n bietjie te skinder, maar nie te veel nie.

Indien jy die kos geniet wat aan tafel voortgesit word, moet jy steeds so ’n bietjie oorlos.

“’n Bord moet nooit lyk of dit skoon gelek is nie,” het Schoeman gesê.

Daarteenoor moet dit ook nie duidelik wees as jy nie van die kos hou nie.

“Gaan sê vir die gasheer of gasvrou jy is versadig of dat jy te veel voor middagete geëet het as jy nie van die kos hou nie.”

Daar moet ook mooi gedink word oor die gastelys, het Schoeman gesê.

“Daar moet iemand wees wat kan luister, iemand wat lekker praat en daar moet ’n mooi vrou wees. Maak altyd seker dat daar iets moois vir die oog is.”

Schoeman meen etiket is steeds baie relevant.

“Jong mense moet weet hoe om hulself te dra en hoe om op tree. Jy kan môre na Buckinghampaleis of na die Withuis genooi word, dan moet jy weet wat om te doen.”

Schoeman het verlede week 79 geword, maar sy is steeds so besig en wakker soos altyd.

“Ek is besig om ’n boek te skryf en ek stap nog elke dag op die strand.”

Volksblad
«Terug