Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Foto’s op pakkies waarsku oor rook

Deur: Lourensa Eckard 2012-12-24 05:55

JOHANNESBURG. – Foto’s van vrot tande, mondsere en longkanker kan een van die dae op sigaretpakkies pronk.

Dit is volgens Peter Ucko, waarnemende direkteur van die Nasionale Raad Teen Rook, rokers in Suid-Afrika se voorland.

“Ek dink die kanse is baie goed dat hierdie wet (wat daarvoor voorsiening maak) binnekort in Suid-Afrika gepromulgeer gaan word,” het Ucko gesê.

Australië het op 1 Desember ’n wet in werking laat tree wat vereis dat alle tabakprodukte se verpakking olyfgroen moet wees, met uitbeeldings van tabakverwante siektes en -toestande daarop.

Dié wet vereis dat die gesondheidsrisiko’s 75% van die voorkant van ’n sigaret-pakkie en 90% van die agterkant daarvan uitmaak.

Die naam van die handelsmerk mag steeds op die pakkie verskyn, maar dit moet in ’n klein skrif wees en die handelsmerk se logo mag nie daarop verskyn nie.

“Dit sal mense keer om te rook en hulle daarvan weerhou om in die eerste plek te begin,” het Ucko gesê.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het in Maart vanjaar verskeie tabakverwante regulasies voorgestel, maar toe geen melding van verpakking gemaak nie.

“Die regering sal iets moet doen. Ons het reeds gesien dat die regering ernstig is oor die saak toe hy ’n verbod op advertensies vir tabakprodukte geplaas het,” het Ucko gesê.

Een van die beelde wat op sigaret-pakkies in Australië verskyn sedert die wet in werking getree het, is van ’n man wat aan longkanker gely het.

“Hy het kort voordat hy dood is gevra dat foto’s van hom op sy sterfbed gebruik word om mense bewus te maak van die gevare van rook.”

Volgens Itumeleng Langeni, woordvoerder vir British American Tobacco Suid-Afrika (BAT), is BAT sterk gekant teen sulke verpakkings van hul produkte.

“Daar is geen bewyse om te sê eenvoudige verpakking van tabak-produkte sal die jeug afsit om dit te gebruik nie,” het Langeni gesê.

Indien ’n soortgelyke wet soos in Australië in Suid-Afrika ter tafel gelê word, sal BAT elke stap moontlik doen om sy handelsmerke te beskerm, het Langeni gesê.

“Dit is ons reg om as ’n kommersiële maatskappy wat ’n wettige produk verkoop mee te ding.”

Langeni het gesê dit is te vroeg om te sê of verkope van BAT se produkte in Australië skade gely het sedert die wet in werking getree het.

Volksblad
«Terug