PRETORIA. – Passasiers op die Gautrein was gisteroggend etlike ure lank buite Centurion gestrand nadat die trein sy noodremme moes aanslaan weens ’n tegniese fout.
Riaan van der Merwe (41) van La Montagne in die ooste van Pretoria, wat gister die tweede keer op die Gautrein gery het, het gesê al die passasiers moes “in die middel van nêrens” van die trein afklim. “Niemand het beheer van die situasie geneem nie. Almal moes maar op hul eie van die trein afklim,” het Van der Merwe, ’n ingenieur wat eergister met ’n nuwe werk in Sandton begin het, gesê.
Volgens hom was dít ook nie ’n maklike taak nie. “Van die trein tot op die grond was ’n sprong van sowat 2m. ’n Personeellid het ’n houtleer nader gebring om van die passasiers te help.
Katinka Beeslaar (43) van Centurion het gesê dit het haar vier uur gevat om by die werk uit te kom. “Die trein het sommer net gaan staan nadat ons ’n vreemde brandreuk geruik het.”
Volgens Beeslaar het Bombela, die konsortium wat die Gautrein bedryf, meer as twee uur gevat om ’n plan te maak. “Ons moes uiteindelik uit die trein spring, in sulke diep sementslote klim en weer uitklim voordat ons op ’n nuwe trein geklim het.
“Om alles te kroon, toe ons by die Sandton-stasie stop, wou hulle ons R500 beboet omdat ons langer as twee uur op die trein was,” het Beeslaar gesê.
“Gelukkig is die stelsel herset en is die passasiers deurgelaat.”
Daar was glo ’n hoog swanger vrou wat paniekerig geraak en gesukkel het om asem te kry op die trein.
Volgens Kelebogile Machaka, woordvoerder van Bombela, was dié trein van die Centurion-stasie na Johannesburg onderweg toe hy om 07:21 tussen dié stasie en Midrand ’n tegniese probleem ondervind het waarna die noodremme ingevolge veiligheidsprosedures aangeslaan moes word.
Machaka het gesê dié trein is veilig tot stilstand gebring en ’n ander trein is gestuur om die passasiers verder te vervoer.
Volgens haar is geen probleme ondervind nie. “Die aanvanklike ondersoek dui daarop dat dit veroorsaak is deur ’n fout op ons rekenaarmonitors.”
Volksblad