Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Geen gesinslede van gevalle Bfn-vlieënier oor

Deur: Jana van der Merwe 2012-06-18 22:37

’n NIGGIE van die gesneuwelde Bloemfonteinse oorlogvlieënier 2lt. Keith Frank Williamson (20) sal op 8 Julie die nis met sy as in die gedenkmuur by die Voortrekkermonument plaas.

Keith, een van drie soldate wie se oorskot ná 37 jaar uit ’n graf in Angola teruggebring is, se hele gesin is reeds dood.

Keith, wat aan die Christian Brothers College (CBC) in Bloemfontein gematrikuleer het, se ouers, Jack en Althea, was ’n welgestelde egpaar van Bloemfontein.

Binne 18 maande het hulle al drie hul kinders aan die dood afgestaan. Hul oudste seun, Rodney (21), is eers in ’n motorongeluk tussen Beaufort-Wes en Laingsburg dood. Daarna, slegs enkele maande voordat Keith na die grens vertrek het, het hul dogter Nadine (18) buite Bloemfontein verongeluk.

Die Williamson-egpaar het twee van hul kinders begrawe.

Hulle is egter na hul graf sonder dat hulle hul jongste kind kon begrawe.

Jack, ’n bekende sakeman wat petroltenks en -pompe vir vulstasies geïnstalleer het, en Althea het op Parys in die Vrystaat afgetree. Hulle is in ’n kort tyd uitmekaar aan kanker dood.

Keith en 2lt. Eric Thompson was die vliëeniers van ’n vliegtuig wat in die Slag van Ebo neergeskiet is. Hul oorskot is nou eers opgespoor.

Keith se niggie Desi du Toit, van George, sal nou namens sy afgestorwe ouers sy as in die gedenkmuur by die Voortrekkermonument plaas.

Du Toit sê sy onthou die groot familievakansies saam met haar neef Keith en sy gesin.

“Hulle was ’n baie hegte gesin. Keith was so ’n lewenslustige jong man.”

Sy sê die drie Williamson-kinders se dood, die een ná die ander, was vir hul ouers en die hele familie verpletterend.

Althea (née Tromp) se familie was stigterlede van die Suid-Vrystaatse dorp Trompsburg.

In die familie was en is talle lugmagvlieëniers.

Du Toit se man, René, en Keith was goeie vriende. Hulle het in 1973 saam hul lugmag-vliegopleiding aan die Oos-Rand ontvang.

Desi se broer, Trevor William­son, ’n helikoptervlieënier, is die bevelvoerder van die lugmag se 15 Eskader in Durban.

Du Toit, haar man en haar suster, Marion Dinkelman van Johannesburg, sal op 8 Julie in Pretoria wees om die laaste eer aan Keith te betoon.

René, deesdae ’n kommersiële helikoptervlieënier, sê sy vriend se dood was ’n tragedie vir almal.

“Dit gaan baie beteken vir ons almal om ’n einde aan die hoofstuk te maak. Maar wat almal moet onthou: Hierdie gaan nie net oor die tragedie van Keith se familie en vriende nie. Die ergste van die oorlog is: Vir wat? Ons het niks bereik nie.”

Volksblad
«Terug