Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Geniet die meisies, is Bert se raad aan Chad

Deur: Lourensa Eckard 2012-08-22 22:18

JOHANNESBURG. – “Chad is nog te jonk om aan trou te dink. Hy moet nou eers al die aandag wat hy by die meisies ontvang, geniet.”

Só het Bert le Clos, Chad se pa, in sy diep en hees stem oor sy seun se gewildheid onder die meisies gesê. Volksblad het met pa en seun by die opening van ’n nuwe gimnasium in Johannesburg gesels.

“Ek is ’n groot voorstander van vriende met voordele,” het Le Clos sr. bygevoeg.

Chad het duidelik skaam geword. “Jy is dan so ’n pragtige seun!” was sy pa se reaksie.

Bert het bekendheid verwerf danksy ’n onderhoud met die BBC nadat Chad ’n goue medalje in die 200m-vlinderslag gewen het.

“Wat ’n pragtige seun! Ek is lief vir hom! Ek was nog nooit in my lewe so bly nie!” het Bert uitbundig in die onderhoud gesê.

Chad meen hy is nie heeltemal so emosioneel soos sy pa nie, maar soms pink hy ’n traan of wat weg.

“Ek huil nie so maklik soos my pa nie, maar soos wat ek ouer word, begin ek al meer soos hy word,” het Chad geskerts.

Bert het gesê hy gaan nie om verskoning vra vir sy emosies nie.

“Ek is wie ek is. Ek wys emosie en ek huil as ek gelukkig en hartseer is. Ek is soos ’n dier in daardie opsig. Mans moet kan huil,” het hy bygevoeg.

Volgens Chad het sy lewe onherroeplik verander vandat hy van Londen met ’n goue en ’n silwer Olimpiese medalje teruggekeer het.

“Die aandag is nogal oorweldigend, maar dit is ook vir my lekker,” het Chad gesê.

Die R600000 wat hy van die Suid-Afrikaanse Sportfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) vir sy twee medaljes ontvang het, gaan heel moontlik aan ’n nuwe huis bestee word.

Bert meen die enigste verandering wat sy lewe ondergaan het sedert sy seun se Olimpiese sege, is die ekstra rolletjies om sy maag.

“Ek het lekker vet geword vandat ons terug is,” het Bert gesê.

Volksblad
«Terug