Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Gesin uitgewis op pad huis toe

Deur: Jana van der Merwe 2012-07-06 21:52

JOHAN GREYLING, een van ’n bekende Vrystaatse drieling, het gisteroggend ’n slegte voorgevoel gehad toe hy oor die radio hoor van ’n lelike padongeluk buite Laingsburg.

Kort daarna is sy vrese deur die polisie op die ongelukstoneel bevestig.

Sy broer Paul (43), skoonsuster Yvonne (47), en hul seuntjie, Paul (7), van Bloemfontein, is in dié grusame botsing tussen hul motor en ’n vragmotor dood.

Johan het hulle in die oggendure by sy huis in die Strand gegroet, nadat hulle hier by hom en sy gesin by die see vakansie gehou het.

Hulle is waarskynlik almal op slag dood.

Hul motor het uitgebrand en hul lyke is verkool.

Paul was ’n werkswinkelbestuurder by die Grootvlei-gevangenis.

Hy het 24 jaar lank hier gewerk.

Yvonne was die afgelope 11 jaar onderskrywingbestuurder van BSG in Bloemfontein. Sy het onlangs die uitvoerende hoof se top-eerbewys vir haar uitstekende werk en toegewydheid ontvang.

Paultjie, soos sy familie hom genoem het, was ’n gr. 2-leerling aan die Laerskool President Brand.

Daan Potgieter, skoolhoof, het gister gesê hy is geskok. Paul was ’n stil, voorbeeldige seuntjie.

Ao. November Filander, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die ongeluk het omstreeks 06:30 sowat 58km buite Laingsburg in die rigting van Bloemfontein gebeur.

Die gesin se motor en die vragmotor het reg van voor gebots. Albei voertuie het aan die brand geslaan.

Die drie insittendes van die vragmotor is met ernstige beserings na die hospitaal op Laingsburg gebring.

Johan Greyling sê dit is ’n geweldige skok.

Hul ouer broer Felix, ook van die Kaap, het die afgelope week saam met hulle vakansie gehou.

Hul oudste suster, Marinda van der Sandt, vertel haar drieling-broers, van wie Paul die oudste was, was bekend in Bloemfontein.

As kinders was hulle op hul verjaardae gereeld in die koerant. Toe hulle destyds saam weermag toe is, was hul foto ook in die koerant.

Die ander lid van die drieling, De Wet, bly op Port Alfred in die Oos-Kaap.

Paul is deur sy swaer Johan van der Sandt as ’n “warrelwind-mens” beskryf; ’n go-getter wat nie geskroom het om te doen wat hy graag wou doen nie.

Duncan Cairns, uitvoerende hoof van BSG, het Yvonne as ’n uiters bekwame werknemer en spesiale mens beskryf.

“Sy was ’n inspirasie vir ander. Haar afsterwe is ’n groot verlies.”

Paul word ook oorleef deur sy ouers, Paul sr. en Sarie van Bloemfontein, en Yvonne deur haar twee kinders uit ’n vorige huwelik, Donovan Mostert (27) en sy suster, Elizma Hilligenn (24), van Bloemfontein.

Klein Paul Greyling

Volksblad
«Terug