DIE jong Bloemfonteiner wat graag agter die tralies wou beland om tronkkos te kry, gaan dit vir baie jare op sy bord kry nadat hy gister tot lewenslange tronkstraf gevonnis is omdat hy sy ma vermoor het.
Boonop het waarnemende regterpresident Faan Hancke ook vir die moordenaar Stefan (Spek) Croucamp (25) die kop gewas en ’n lewensles oor die rol van ’n ma in ’n seun se lewe gegee.
Croucamp het sy ma, Denise Seaward (59), die nag van 23 April 2010 ses keer met ’n mes in die nek gesteek, totdat sy dood is.
“’n Moeder is eintlik ’n besondere persoon in ’n seun se lewe. Sy is die een wat met groot pyn aan hom geboorte skenk. Sy is die een wat sy doeke omruil en hom voed.
“Dit is ondenkbaar dat ’n seun só teenoor sy ma kan optree. Dit gaan my verstand te bowe.
“Sy is brutaal aangerand en vermoor. Die volgende dag is petrol oor haar lyk uitgegooi en is sy aan die brand gesteek.”
Hy het Croucamp op ’n aanklag van roof met verswarende omstandighede tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Op ’n aanklag dat Croucamp sy ma se slaapkamer in haar Bethanie-meenthuis in Langenhovenpark aan die brand gesteek het, is hy tot drie jaar tronkstraf gevonnis.
Regter Hancke het gesê Croucamp het boonop skoonmaakmiddels gekoop om die spore van die misdaad uit te wis.
“Ek twyfel of u familie by u sal staan. Maar u was die argitek van u eie lot.”
Hy het gesê daar moet met die vonnis ’n duidelike boodskap na buite gestuur word dat mense wat sulke dade pleeg, nie genade kan verwag nie. Hy het ’n aansoek van Croucamp om verlof om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer, afgewys. Croucamp het sy vonnis uitdrukkingloos aangehoor sonder om ’n oog te knip of ’n spier op sy gesig te trek.
Agter in die hof het sy twee broers, Emile en Werner, gesit.
Croucamp het tydens die verhoor getuig dat hy gelieg het toe hy vir die polisie in Augustus verlede jaar gesê het dat hy sy ma vermoor het. Hy het in die veld gewoon en nie kos gehad nie. Hy het gedink hy sal toegesluit word. Dan kry hy minstens kos in die tronk en het hy ’n dak oor sy kop.
Adv. Francois Pienaar het aangekla. Dawie Reyneke het vir Croucamp opgetree. Dr. Brand Claassen en adv. Denise Greyling het regter Hancke as assessore bygestaan.
Volksblad