Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Graeme en sy span skep asem by Spele

Deur: Christo Buchner 2012-08-07 22:41

LEEDS. – Graeme Smith en sy Suid-Afrikaanse krieketspan verruil krieket môre vir die Olimpiese Spele in Londen.

Dit gaan die Suid-Afrikaners se eerste en enigste kennismaking wees met die Olimpiese ervaring en Smith sê dit is iets waarna hulle geweldig uitsien.

“Ek is nog nie seker waarna ons gaan kyk nie. Ons sal maar eers sien wat op die program is, en wil ook uitkom by die Suid-Afrikaners wat in aksie is om hulle aan te moedig,” het hy hier by Headingley gesê nadat die tweede toets teen Engeland onbeslis geëindig het.

Die Suid-Afrikaners speel Vrydag en Saterdag ’n tweedaagse toerwedstryd teen Derbyshire in Derby, ’n plek waar daar glo nie veel aangaan nie en dit hou vir altyd aan.

Hulle het ná die toets Maandagaand in hul luukse bus Derby toe vertrek, maar gister en vandag die kans gebruik om Londen toe te gaan om vir ’n paar dae weg te kom van krieket af.

Hulle sal weer môre in Derby wees voor die tweedaagse stryd daar.

Die krieketspelers het die Spele tot dusver met groot belangstelling gevolg en Smith sê dit gaan vir hulle iets besonders wees om môre daar te wees.

“Net om in die Olimpiese dorpie te wees en alles daar te ervaar, maak ons baie opgewonde. Dit sal beslis vir ons ’n hoogtepunt wees,” sê Smith.

Die derde en beslissende toets in die reeks van drie, met Suid-Afrika wat met 1-0 voorloop nadat hy die eerste toets op die Oval in Londen met ’n beurt en 12 lopies gewen het, vind aanstaande week op die tradisionele tuiste van krieket, Lord’s, ook in Londen, plaas.

Dit is waar die boogskietnommers vir die Spele plaasgevind het, en daar word onverpoos gewerk om die veld slaggereed te kry vir die toets.

Volksblad
«Terug