VANDAG presies tien jaar ná die dood van Hansie Cronjé word hy steeds onthou en is hy vergewe.
Dit is ’n hartseer-dag vir dié oud-Bloemfonteiner se geliefdes.
KYK 'N VIDEO HIER
Ewie Cronjé, Hansie se pa, sê sy seun se dood voel nog onwerklik.
“Dit voel asof hy enige oomblik gaan verskyn,” het hy in trane gesê. “Dit (Hansie se dood) los een groot gat.”
Volgens hom was sy seun krieketwys, maar nie wêreldwys nie. Dit is moontlik wat hom in die moeilikheid met beroepswedders laat beland het.
Ewie sê dit was die beroepswedders wat Hansie verkla het omdat hy hulle om die bos gelei het.
“Hy het nooit ’n wedstryd gegooi nie.”
Lesers het op Facebook gesê Hansie is ’n held en die beste krieketkaptein wat die land nog gehad het. (KLIEK HIER VIR LESERSKOMMENTAAR)
Spanmaats van Hansie het hom vergewe en sê hy was ’n goeie kaptein.
Pat Symcox sê die Hansie-sage het Suid-Afrika verdeel en wat Hansie gedoen het, was verkeerd.
Maar dis nou in die verlede en ’n mens moet aanbeweeg.
“Ek het Hansie vergewe.”
Vinnige Fanie (de Villiers) sê Hansie het 90% goed en 10% kwaad gedoen.
“Enigiemand wat die weegskaal so beïnvloed, sal vergewe word.
“Hansie was die ultimate kaptein as dit kom by die bemarking van die spel en die persepsiële hantering van die volk en sy ondersteuners.”
Makhaya Ntini het die sleg reeds vergeet. “Ek vier en omhels vandag die mooi herinneringe.”
Hy vertel hoe hy vroeg in sy loopbaan as deel van die Proteas in ’n eendagwedstryd teen Indië in Dhaka, Bangladesj, twee leë boulbeurte ná mekaar teen Sachin Tendulkar geboul het.
“Hansie het na my gekom en my op die skouer geklop. Hy het gesê ek weet seker niemand het nog twee leë boulbeurte teen Sachin geboul nie. Dít was ’n trotse oomblik.”
Hy sê Hansie het hom nie as ’n swart krieketspeler beskou nie.
“Hansie het my beskou as ’n talentvolle, jong krieketspeler van die Oos-Kaap wat ’n verskil in ons land kan maak.”
Dr. Ali Bacher, voormalige administrateur van die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika, sê: “Hy (Hansie) was ’n gebore leier...”
Volgens hom het Hansie boonop ’n passie vir minder bevoorregte kinders gehad.
Hy vertel in die 90’s moes hy gereeld krieketklinieke reël as deel van ’n veldtog om krieket in die townshipste bevorder.
“Jy kon altyd op Hansie staatmaak om daar te wees. Selfs die dag voor ’n groot internasionale wedstryd.”
Hansie het ook die res van sy span na die townships gebring.
Pieter Steynberig Hansie se skoolhoof, Johan Volsteedt van Grey-kollege in Bloemfontein, sê die krieketheld was “’n wonderlike mens”.
“Oral waar ek steeds kom, praat die mense só positief oor Hansie. Ek dink almal het hom vergewe. Dié wat nie het nie, behoort dit te doen.”)Hansie se ouers en van sy vriende sal vandag by die muur van herinnering, wat vir hom op Grey se skoolterrein opgerig is, byeenkom.
Volksblad