Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Hoë en ‘Highway Hennie’

Deur: James-Brent Styan 2012-06-01 05:25

KAAPSTAD. – Die adjunkminister van kommunikasie, Stella Ndabeni, is ’n direkteur van die omstrede maatskappy Phoebus Apollo Aviation.

Dié groep word tans deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gedagvaar vir R264miljoen.

Volksblad het gister berig dat Phoebus Apollo in 2007 strafregtelik aangekla was van onder meer rampokkery, belastingontduiking en smokkelary.

Ndabeni het gister gesê dié saak is deur die hof uitgegooi.

Sy was onbewus daarvan dat die saak steeds in die siviele hof gevoer word.

“Die maatskappy vlieg BBP’s (baie belangrike persone) al sedert 1994 rond. Ek het daar aangesluit lank nadat hulle al aan die gang was,” het Ndabeni gesê toe sy gevra is of daar nie ’n botsing van belange tussen haar direkteurskap en regeringsamp is nie.

Ndabeni het aan Volksblad gesê Phoebus Apollo doen geen werk vir die departement van kommunikasie nie.

Sy het in Julie verlede jaar as direkteur by Phoebus Apollo aangesluit.

Ndabeni het Volksblad gister met Hendrik “Highway Hennie” Delport, eienaar van Phoebus Apollo, in verbinding gebring.

Delport het ontken dat hy en sy maatskappy die SAID enigiets skuld.

“Al die aantygings is inkorrek. Sars (SAID) is al tien jaar besig met regsaksie teen my en my maatskappy sonder sukses. Ek skuld hulle niks.”

Adrian Lackay, woordvoerder van die SAID, het vroeër aan Volksblad gesê die saak teen die maatskappy word reeds sedert 2008 in die siviele hof aangevoer.

“Daar’s geen manier wat hulle nie kan weet nie,” het Lackay gesê.

Stukke wat Volksblad onder oë gehad het, dui daarop dat die SAID ook die moontlikheid ondersoek dat die vliegtuie wat Phoebus Apollo gebruik, onder meer die DC-9 vliegtuig wat oud-pres. Nelson Mandela Dinsdag na Mthatha gevlieg het, Suid-Afrika onwettig ingebring is.

Volksblad kon verder vasstel:

)Die vliegtuig wat Mandela vervoer het, word deur Fulela Trade & Investment besit, wat een aandeelhouer, Joachim Cilliers, het.

)In ’n beëdigde verklaring wat Cilliers vir die Noord-Gautengse hooggeregshof afgelê het, sê hy dat dié vliegtuig permanent verhuur word aan Phoebus Apollo “wat die vliegtuig aan die Suid-Afrikaanse Lugmag beskikbaar stel vir gebruik”.

)Die vliegtuig word spesifiek deur die lugmag gebruik “in baie operasies, insluitende die vervoer van troepe na die binneland van Afrika, die vervoer van vrag en BBPs”.

Brig.Genl. Xolani Mabanga, ’n woordvoerder vir die departement van verdediging, het gister by navraag gesê inligting rakende die gebruik van die vliegtuie deur die lugmag is “geklassifiseerd”.

Die Nasionale Vervolgingsgesag is om kommentaar genader, maar het teen druktyd nog nie gereageer op navrae nie.

Volksblad
«Terug