PRETORIA. – “My bedoeling was om die twee baba-hondjies permanent stil te maak toe ek hulle verwurg het. Ek is jammer.”
Christiaan Lamprecht (22) het daarna die honde se velle afgeslag.
Só het Lamprecht in sy pleitverduideliking in die Pretoria-Noordse landdroshof gesê, waar hy skuld beken het op twee aanklagte van wreedheid teenoor diere.
Hy is net gewaarsku en ontslaan.
Hy is ook nie onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit nie.
Lamprecht het in sy pleitverduideliking erken dat hy op 12 Januarie buite sy tuinwoonstel in Pretoria-Noord met sy buurvrou se een baba-hondjie gespeel het.
“Ek het die hondjie binnetoe gevat terwyl ons gespeel het. Ek het dit vasgehou en toe gewurg. Ek het die hond gewurg totdat dit nie meer kon asemhaal nie.
“Toe het ek ’n mes gevat en die vel afgeslag.”
Later daardie dag het die tweede hondjie by hom aangekom.
Dié het dieselfde wrede pad as die eerste hond geloop.
Lamprecht het die karkasse in ’n buite-vullisblik versteek, waar dit die volgende dag gevind is.
Volgens hom het hy die hondjies verwurg om hulle “permanent stil te kry”.
Hy het in sy verklaring erken dat hy die diere met opset mishandel, gemartel en doodgemaak het.
Hoewel Lamprecht ook in 2009 van ’n soortgelyke misdryf aangekla is, is hy steeds as ’n eerste oortreder gereken, omdat hy vir die 2009-voorval ’n afwentelingsprogram voltooi het en die aanklag teruggetrek is.
In dié vorige voorval het hy ook sy destydse bure se worshond verwurg.
As deel van Lamprecht se afwentelingsprogram moes hy 56uur se gemeenskapsdiens in die Nasionale Dieretuin in Pretoria verrig.
Wanneer iemand ’n geskikte kandidaat vir ’n afwentelingsprogram is, aanvaar hy aanspreeklikheid vir sy misdryf en moet hy verskeie kursusse bywoon. As die program suksesvol voltooi word, word die strafregtelike aanklag teruggetrek.
Dit tel dus nie as ’n vorige veroordeling nie.
Ná die Januarie 2012 -voorval is Lamprecht na die Weskoppies- psigiatriese hospitaal gestuur vir evaluasie.
Luidens die Weskoppies-verslag is geen psigiatriese diagnose gemaak nie, behalwe dat die jong man ly aan “’n kliniese gematigde graad van verstandelike gestremdheid”.
Hy het egter nie aan ’n psigiatriese afwyking ten tyde van die pleeg van die misdaad gely nie en kon onderskei tussen reg en verkeerd, het die verslag gelui.
Volksblad