KAAPSTAD. – Hy het sy héél beste gegee – meer as dít kan ’n ma nie vra nie.
Só het Mandie Stander, ma van Burry Stander (24), gister uit Londen aan Volksblad gesê nadat haar seun vyfde was in die eindronde vir bergfietsry op die Olimpiese Spele.
“Ek dink hy was fantasties. Fantásties. Hy het 110% gegee en dis al wat hy van homself kan vra.”
Stander se tyd was 1:29:37, slegs 30 sekondes agter die wenner, Jaroslav Kulhavy van die Tsjeggiese Republiek.
Stander het vier jaar gelede op die Olimpiese Spele in Beijing 15de geëindig.
Mev. Stander het gesê vyfde plek is ’n goeie plek, maar haar seun sou waarskynlik onder die boonste drie wou geëindig het.
“Ek voel hy het sy héél beste gegee en daarvoor is ek as ma geweldig trots op hom,” het mev. Stander, wat self by die baan was en ná die tyd gou met haar seun gepraat het, gesê. “Hy was baie moeg. Dit vat nog tyd vir alles om deur te werk, maar hy wasfine.”
Toe haar seun opstaan nadat hy in ’n stadium geval het, en toe weer moes inhaal om tyd op te maak, het haar hart van trots geswel.
“Ek is werklik trots op hom. Hy het so hard gewerk en ek weet hy’t sy beste ingesit. Een en elke atleet wat klaargemaak het, verdien om op die skouer geklop te word. Om twee uur lank aanneen op jou fiets deur te bring, is nie maklik nie. En dit was vandag (gister) baie warm in Londen.”
Volksblad