CLOCOLAN. – Inwoners hier beskuldig die burgemeester dat hy ’n onwettige pyp vir skoon water vir sy varke aangelê het, terwyl hulle besoedelde water moet drink.
Burgemeester Tshediso Jakobo sê egter dit is bog en politiekery. Hy het net twee babavarkies en geen onwettige waterpyp nie.
“Dit is bloot politiek. Dieselfde kwessie is in 2008 ook in ’n griefskrif genoem. Ek het nog niks verkeerds gedoen nie.”
Inwoners het gister ’n griefskrif aan die Vrystaatse direkteur van samewerkende regering, menslike vestiging en tradisionele aangeleenthede, Thabo Masukela, en die speaker van Setsoto-munisipaliteit, Molefi Pius Mohlomi, oorhandig.
Hierin kla hulle oor die burgemeester se varke wat gesuiwerde water uit ’n onwettige pyp suip terwyl mense hier “rioolbesoedelde water” moet drink.
“Sy varke drink gesuiwerde water, terwyl ons sukkel met water in Setsoto,” het Seemane Mpakathi gesê.
Inwoners van die middedorp en Hlohlowane het in die sneeu en koue opgeruk om hul griefskrif te oorhandig.
“Ons is gegrief deur wat aan die gang is in Setsoto. Ons drink besoedelde water,” het Mpakathi gesê.
Die inwoners eis in hul griefskrif ’n ondersoek na die waterprobleme op die dorp.
Hulle wil weet waarom waterbeperkings nie ingestel is voordat die waterkrisis ontstaan het nie en waarom tenkwaens met sowat 400000 liter water per maand van Clocolan na Marquard vervoer word, terwyl Clocolan self met ’n watertekort sit.
Inwoners kla ook oor beeste wat sowat 440000 liter water per maand opsuip en vra vrae oor die kwalifikasies van personeel by die waterwerke.
Die reservoirs is ook nie omhein nie en onveilig, sê hulle.
Verder kla hulle oor onvoltooide HOP-huise en vra hulle vrae oor hoe dié huise toegeken word.
Hulle sê hulle wil oor ’n week antwoorde op hul griewe en vrae hê.
Sugar Ramakarane, munisipale bestuurder, het gesê die munisipaliteit moet vier dorpe bedien en ag die een nie belangriker as die ander nie.
Water word nie meer van hier na Marquard aangery nie, maar van Ficksburg af.
Hy sê omdat Clocolan min water het, word water van die Lucrucia-dam, wat nog sowat 40% vol is, na die Mopheri-dam gepomp en gesuiwer.
Hy wou hom nie uitlaat oor inwoners se klagtes van besoedelde water nie.
“Ek kan nie sê of dit so is of nie, want ek het dit nog nie geproe nie.”
Volksblad