’n JONG vrou van Bloemfontein wat haarself as ’n tandarts voorgedoen en in haar huis “gepraktiseer” het, is gister in die Bloemfonteinse landdroshof ’n boete van R5000 of ’n jaar tronkstraf opgelê.
Elmarie Harms (23), ontvangsdame vir ’n tandarts in Bloemfontein, is ’n verdere 20 maande tronkstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is.
Die polisie het verlede jaar inligting ontvang dat Harms na-ure haar eie “tandartspraktyk” in haar huis bedryf.
Sy is in Desember in ’n lokval in hegtenis geneem. ’n Polisieman het hom as ’n pasiënt voorgedoen.
Medisyne en tandheelkundige instrumente is in haar huis gekry.
Harms het ook ’n vervalste mediese sertifikaat van die Universiteit van Pretoria gehad, het die Valke se woordvoerder, kol. McIntosh Polela, gesê.
Volksblad