Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Kommer oor nóg ’n boekekrisis

Deur: Marzanne van den Berg en Marietie Louw-Carstens 2012-07-18 00:00

POLOKWANE. – Die handboekkrisis in Limpopo is nog lank nie verby nie, maar daar is reeds kommer oor volgende jaar.

Section 27, die regsbelangegroep wat die departement van basiese onderwys hof toe geneem het oor die boekekrisis, het sy kommer uitgespreek dat die onlangse aankoop van handboeke glo uit die begroting vir 2012-’13 gedoen is. Dié geld sou normaalweg gebruik word vir die aankoop van boeke vir die 2013-skooljaar.

Luidens prof. Mary Metcalfe se verslag oor die boekekrisis het Limpopo in die 2010-’11-boekjaar R318miljoen aan aanvullingsboeke vir alle grade bestee, maar in 2012-’13 is slegs R249miljoen begroot vir sowel die nuwe boeke vir vier grade as aanvullings vir die ander grade. Die begroting was nie voldoende nie. Daar is besluit om nie aanvullingsboeke vir gr.4 tot gr.9 te verskaf nie, dus is boeke wat verlore geraak het nie vervang nie en dit lei tot tekorte in dié grade, lui die verslag.

Panyaza Lesufi, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het gesê die proses om boeke vir 2013 te bestel, het reeds begin. Die nuwe kurrikulum word volgende jaar in gr.4 en gr.11 ingestel en dié leerlinge moet dus nuwe boeke kry.

Lesufi het gesê die departement praat met die nasionale en provinsiale tesourieë om te verseker vanjaar se krisis word nie herhaal nie.

Metcalfe se span het bevestig daar is stapels boeke van vorige jare in pakhuise wat nie uitgedeel is nie.

Sy beveel aan dat dié boeke onmiddellik bekyk en aan skole of gemeenskapsbiblioteke uitgedeel word en daar ondersoek ingestel moet word na waarom dié boeke nie afgelewer is nie.

Lesufi het gesê die departement wag nog op die verslae van die presidensiële taakspan en die taakspan wat deur die premier van Limpopo, Cassel Mathale, aangestel is, voordat hy ’n bestekopname sal doen.

Wat oproepe om Angie Motshe-kga, minister van basiese onderwys, se kop betref, het Lesufi gesê as belanghebbendes soos Section 27 nie dink Motshekga moet bedank nie, is dit jammer dat ander so dink. “Wanneer die nasionale regering ’n provinsie onder voogdyskap plaas, is die hele kabinet die voog van daardie provinsie,” het Lesufi gesê.

In ’n verrassende wending stem die DA en die ANC-jeuliga in Limpopo saam dat Dickson Masemola, LUR van onderwys, afgedank moet word weens die chaos.

Desiree van der Walt, DA-koukusleier in Limpopo, het gister gesê as hy nie afgedank word nie, moet hy bedank.

Luidens ’n verklaring van die ANC-jeugliga wil hulle Mathale “oorreed om van Masemola ontslae te raak.”

Die president (Jacob Zuma) moet dieselfde met Angie Motshekga doen, “as hy na die belang van die land wil omsien”.

Section 27 het eergister ook gesê Masemola moet afgedank word.

Intussen vra Annette Lovemore, DA-skaduminister oor onderwys, dat Motshekga die skuldiges, wat glo gelieg het oor wanneer handboeke afgelewer is, afdank.

Volksblad
«Terug