Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Mahlangu swaar gestraf

Deur: Susan Cilliers 2012-08-22 22:18

VENTERSDORP. – Chris Mahlangu se volgehoue leuens, gebrek aan berou en skreiende disrespek vir ’n mens se lewe het veroorsaak dat lewenslange gevangenisstraf vir die beplande moord op Eugène Terre’Blanche gister aan hom opgelê is.

Regter John Horn het in die rondgaande hof hier gesê die boosaardige, wrede manier waarop Mahlangu die AWB-leier op 3 April 2010 in sy slaap vermoor het, oorskadu enige moontlike versagtende faktore verreweg.

’n Verdere 15 jaar gevangenisstraf is aan Mahlangu (30) opgelê omdat hy Terre’Blanche se selfoon gevat en sy bakkie probeer steel het.

Sy medebeskuldigde, Patrick Ndlovu (18), wat skuldig bevind is aan huisbraak, is tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is.

Sy regspan het hom gister eers op ’n veilige plek gehou voordat hy na sy familie sou teruggaan. “Ons vrees vir sy veiligheid en wil nie kanse waag nie,” het Zola Majavu, Ndlovu se prokureur, gesê.

Die vonnisse het ’n einde gebring aan ’n hofsaak wat oor langer as twee jaar gestrek het. Dis gekenmerk deur sterk rasse-emosies en het wêreldwyd opslae gemaak.

Horn het gesê Mahlangu se leuens dat Terre’Blanche hom gesodomiseer het, het vir die vermoorde AWB-leier se familie groot hartseer besorg. “Dit en sy bewerings dat die AWB die staat betaal het om hom tronk toe te stuur, was kwaadwillig, ongegrond en eenvoudig vals.”

Horn het gesê dis onrusbarend dat Mahlangu net R600 per maand as plaaswerker by Terre’Blanche verdien het. Dít en sy haglike leefomstandighede op die plaas was “’n resep vir ’n ramp”.

“Armoede en leefomstandighede is egter nie ’n verskoning vir wat jy gedoen het nie, dis onaanvaarbaar.”

Oor die 18-jarige Ndlovu het Horn gesê dis kommerwekkend dat hy voor die hof en nie in die skool is nie en dat omstandighede hom op 15 gedwing het om op ’n plaas te gaan werk.

Horn het gesê dit lyk of Ndlovu, wat die Terre’Blanche-familie in die oop hof om verskoning gevra het, werklik berou het. “Hy is al langer as twee jaar in aanhouding en daar is tekens van rehabilitasie.”

Oor ’n vorige huisbraak waarvoor Ndlovu ’n opgeskorte vonnis gekry het, het Horn gesê dis in die Ventersdorp-hof se hande om te handel met die feit dat hy sy vonnisvoorwaardes vir daardie misdryf verbreek het.

“Baie mense uit swak agtergronde hef hulself op en maak ’n sukses. Jy kan dit ook doen. Gryp hierdie kans met albei hande aan.”

Volksblad
«Terug