Johannesburg – Die media moet toegelaat word by die dissiplinêre verhoor van die geskorste senior aanklaer van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) Glynnis Breytenbach, het die Pretoriase hooggeregshof Maandag beslis.
"Dit is van uiterse belang dat die media toegang tot die dissiplinêre verhoor het...," het regter Ronel Tolmay beslis.
Die verhoor sal kwessies van betekenisvolle grondwetlike belangrikheid hanteer en moet in die openbare domein beskikbaar wees, het sy gesê.
Breytenbach is op 30 April as streekhoof van die gespesialiseerde kommersiële misdaadeenheid geskors vir gedrag in verband met sake wat aan haar gegee is, het die NVG gesê.
Sy het aangevoer sy glo die nasionale direkteur van openbare vervolging, Nomgcobo Jiba, het haar geskors in 'n poging om die voormalige hoof van misdaadintelligensie Richard Mdluli te beskerm.
Regter Hamilton Cele het Woensdag Breytenbach se aansoek om haar skorsing op te hef in die Johannesburgse arbeidshof van die hand gewys.
Media24 en MNet het Vrydag 'n dringende aansoek by die Pretoriase hooggeregshof ingedien vir toegang tot Breytenbach se dissiplinêre verhoor.
Toestemming vir die drukmedia was aanvanklik deur Barry Madolo, voorsitter van die dissiplinêre verhoor, toegestaan, maar die NVG het gesê Madolo het hom intussen aan die verhoor onttrek en het geen gesag om so 'n besluit te maak nie.
Breytenbach se verhoor sal Maandag hervat word.
Nuus24