‘Ons vlag hang halfstok,” het dr. Dewald Strydom, hoof van die Hoërskool Zwartkop in Centurion, gister gesê nadat ’n gr. 10-leerling van die skool eergister selfmoord gepleeg het.
Chané Bloem (16) het haar op die terrein van die Pretoriase Sentrale Gevangenis, waar haar ouerhuis is, opgehang.
Strydom het gesê Chané was ’n pragtige meisie en haar dood word diep betreur.
Sy was weens maatskaplike probleme in haar kort hoërskoolloopbaan in vier hoërskole.
“Haar selfmoord het skokgolwe deur die Hoërskool Hartbeespoort, die Hoërskool Wonderboom, die Hoërskool Eldoraigne en die Hoërskool Zwartkop gestuur,” het Strydom gesê.
Chané was sedert 20 April ’n leerling aan Zwartkop en was in dié tydperk dikwels afwesig.
Volgens Strydom is Chané se traumatiese omstandighede by ’n maatskaplike werker aangemeld en sy is sielkundig gereeld ondersteun.
’n Jeugwerker het gister ’n spesiale boodskap tydens die skoolopening aan leerlinge gebring en beraders is beskikbaar gestel aan die leerlinge, veral dié wat na aan haar was.
Chané se Facebook-blad is gister oorstroom met boodskappe van vriende wat hulde aan haar gebring het. Van die boodskappe was: “Dis ongelooflik hartseer om te dink dat so ’n pragtige mensie soos jy nou vir ewig weg is* so vriendelike glimlaggie sal definitief gemis word... Maar ek is seker ons almal weet waar jy nou is... Mag Liewe Jesus jou net mooi oppas & dan sien ons jou een van die dae weer... Gaan jou baie mis.”
“As jy net geweet het hoeal die mense vir jou omgee, Chane.”
“Chane ek wens jy kon ons almal se trane sien vandag, dit was genoeg om die see weer vol te maak ek lief jou baj en sal jou okk altyd mis jy was rrg n awsm mens sal jou nooi vergeet nie jys in ons almal se harte ingegrafeer.”
“My liefste chane blommie! Baie mense se trane rol vandag oor jou bokkie! Niemand weet hoekom jy dit gedoen het nie!* Maar Liewe Jesus weet en niemand is kwaad vir jou nie!! Ons gaan jou regtig baie baie mis!
Cara Kruger, ’n vriendin van Chané, het gesê sy was spontaan en almal wou met haar bevriend wees. “Dit gaan baie moeilik wees sonder haar.”
Beeld