Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Melkboere soek antwoorde oor pryse

Deur: Christal-Lize Thomas 2012-06-28 22:55

MELKBOERE van die Vrystaat hoop om volgende week duidelikheid te kry oor DairyBelle se onverwagse produsentprysverlaging.

Die Bloemfonteinse Dairy-Belle-melkprodusent-komitee, bestaande uit boere wat hul melk aan dié maatskappy lewer, het gister by DairyBelle in Bloemfontein antwoorde gesoek.

Dít kom nadat DairyBelle vandeesweek onverwags aangekondig het dat melkboere oor die land heen tussen 50c en 75c minder per liter vir hul melk gaan kry.

Boere het voor die verlaging sowat R3,65 per liter melk by DairyBelle gekry.

Verteenwoordigers van DairyBelle in Bloemfontein het gister onderneem dat hul waarnemende uitvoerende hoof, Jacques Fourie, volgende Woensdag in Bloemfontein met dié komitee sal vergader.

DairyBelle het dié prysverlaging Dinsdag met onmiddellike uitwerking aangekondig.

Koos Pienaar, ’n melkboer van Theunissen en lid van dié komitee, sê melkboere wat aan DairyBelle lewer, is onverhoeds betrap.

Dit is onaanvaarbaar dat dié maatskappy boere nie vooraf nie en op kort kennisgewing van die produsentprysverlaging ingelig het.

Melkboere is in die duister en bespiegel oor DairyBelle se rede vir die besluit.

Die komitee hoop om volgende week antwoorde te kry.

“Ons loop ’n lang pad met DairyBelle se fabriek in Bloemfontein en het nog altyd baie goed saamgewerk.”

Pienaar glo daar bestaan nie ’n ooraanbod melk in die Bloemfontein-omgewing nie.

Hy vrees egter dat ander melkkopers ook binnekort prysverlagings gaan aankondig wat ’n groter negatiewe ekonomiese impak op plattelandse kommersiële en kleiner melkboere kan hê.

Die Bloemfonteinse Dairy-Belle-fabriek kan ook groot verliese ly, sê hy.

“Boere wat aan DairyBelle lewer, het reeds aangedui dat hulle na ander melkkopers wil oorskuif.”

Volgens hom lewer ’n derde van die sowat 538 melkboere in die provinsie aan DairyBelle en meer melkboere kan nou besluit om hul melkerye te staak.

“Melkerye is arbeidsintensief en as boere nie gaan melk nie, kan werkloosheid in dié bedryf toeneem.”

Pienaar sê DairyBelle se onverwagse prysdaling moet ’n les vir boere wees wat in die toekoms seker moet maak dat hul kontrakte met melkkopers in plek is.

DairyBelle was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Volksblad
«Terug