“JISLAAIK, wat is hierie?” vra Boela Britz (6) van Bloemfontein terwyl hy ’n nuwe oranje karretjie styf in sy hande vashou.
Boela, ’n gr.1-leerling aan die Dr. C.F. Visser-skool was gisteroggend toe hy wakker word nog in sak en as oor sy boks karretjies wat saam met die res van sy en sy ma Michelle (38) se besittings in ’n brand vernietig is.
Later het hy weer van oor tot oor geglimlag.
KYK VIDEO HIERMense het hulle harte oopgemaak en hy het weer speelgoed. Baie mense wil hom en sy ma, wat al hul aardse besittings verloor het, help om weer op hul voete te kom.
“Toe ek by die skool kom, het almal by my kom staan,” het die mannetjie gister breëbors gesê.
’n Berig en video van Volksblad oor Boela en sy ma wie se houthuisie in die Wild West-oord in Estoire uitgebrand het, het wye reaksie ontlok.
Talle mense het gesê hulle wil Boela en sy ma, ’n skoonmaker in die oord, help.
Riaan van Niekerk, ’n inwoner in die oord, het gesê oproepe van mense wat wil help, het gister ingestroom.
“Sy het vanoggend (gister) gehuil toe ek by haar kom. Ek het vir haar gesê: ‘Daar is hulp op pad. Mense gee om, al sê hulle dit nie altyd nie’.”
Boela en sy ma het alles verloor: die dubbelbed waarop hulle geslaap het, die yskas wat sy teen R140 per maand gehuur het, hul klere, sy skoolboeke en die stofie wat sy nog afbetaal.
Riaan sê as mense hul beloftes nakom, het ma en kind weer alles wat hulle nodig het.
“’n Man bring ’n nuwe stofie. Mense samel vir Boela speelgoed in en sê hulle bring vir hom die naweek karretjies. Ds. Robbie (du Toit) sê hulle gaan met die geld wat inkom, help om die uitgebrande yskas te betaal.”
Michelle het gister gesê sy staan verstom.
“Ek het nie geweet so baie mense gee om nie. Die een daar Bo. Dit is vir Hom wat ons dankie sê.”
Enigiemand wat nog wil help, kan vir ds. Robbie du Toit, leraar van die NG kerk Estoire, by 084-401-6117 bel.