JOHANNESBURG. – AgriSA gaan hom tot die grondwethof wend in ’n verdere poging om te bewys eienaars van grond waarop ontginbare minerale is, word deur die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumbronne (MPRDA) van hul mineraalregte ontneem.
Dit kom nadat die appèlhof sowat drie weke gelede beslis het die MPRDA ontneem nié grondeienaars van hul mineraalregte nie, omdat hulle self ook daarvoor aansoek mag doen. Die hooggeregshof het AgriSA vroeër gelyk gegee, maar die departement van minerale bronne het die saak onder meer op appèl geneem omdat dit hom glo miljarde rand sou kos om vergoedingseise aan die grondeienaars uit te betaal.
Annelize Crosby, beleidsadviseur van AgriSA, het Vrydag gesê die landbou-organisasie het Donderdag hofstukke by die grondwethof ingedien. Eergister was die sperdatum waarop AgriSA hofstukke moes liasseer. Volgens Crosby doen AgriSA eers aansoek om teen die appèlhof se uitspraak te appelleer. As dié landbou-organisasie toestemming kry om te appelleer, gaan hy grondwethof toe.
Crosby het gesê grondeienaars het ’n bate (die mineraalregte) in hul boedel gehad waarop hulle oor jare tantiemes gekry het. Dít gaan nou – ná die inwerkingtreding van die MPRDA in 2004 – na die regering.
Sy het gesê die feit dat grondeienaars nou hul mineraalregte kwyt is, lei daartoe dat boere niemand kan weier wat op sy grond wil kom myn nie. Dit is dus ten koste van landbou en dwing boere as’t ware om vir mineraalregte op hul grond aansoek te doen. Die beginsel van “gebruik dit of verloor dit” maak dit vir dié boere baie moeilik om aan te hou kos produseer.
Dit kom daarop neer dat boere wel om die mineraalregte op hul grond kan aansoek doen, maar ingevolge die MPRDA moet hulle dan binne twee jaar die regte uitoefen en begin myn. Só nie, verval die mineraalreg, en kan ’n mynhuis of enigiemand anders daarvoor aansoek doen.
’n Regsgeleerde wat anoniem wil bly, het gesê dié saak het “niks te make” met die beskerming van landbougrond nie en is bloot ekonomies van aard omdat grondeienaars meen hulle het ’n bate gehad en dat die MPRDA hulle dit nou ontneem het.
Boere wat wel hul grond wil beskerm en aansoek doen om die mineraalregte, maar nie wil myn nie, stel die proses dus net vir twee jaar uit.
Die vyf appèlregters wat die uitspraak gelewer het, het gesê hulle beskou dié as ’n toetssaak en het beslis die grondeienaars het geen eis teen die staat nie, omdat hulle – net soos enige mynmaatskappy – om die mineraalregte op hul grond kan aansoek doen.
AgriSA behoort binne ’n maand te weet of die saak uiteindelik wel in die grondwethof gaan eindig, het Crosby gesê.
Volksblad