KAAPSTAD. – “’n Mens kom nooit daaroor nie, want dit verander jou lewe. Maar jy leer om dit te hanteer.”
Monique Strydom, wat 12 jaar gelede saam met haar man, Callie, byna vier maande lank deur die Moslem-rebellegroep Abu Sayyaf gyselaar gehou is, het gister gepraat oor hoe mens só ’n traumatiese ervaring verwerk.
Strydom het gesê sy wil nie graag die gyselaarsdrama waarin sy en haar man in 2000 op die Jolo-eiland aangehou is, vergelyk met die situasie waarin Debbie Calitz en Bruno Pelizzari deur seerowers gevange geneem is nie. Elke situasie is uniek.
“Sjoe, hulle is baie lank aangehou. Ek het regtig nie gedink hulle leef nog nie. Mense moet onthou dis daai ouens (die seerowers) se brood en botter. Dit is al wat hulle doen.”
Strydom het gesê in hul geval het die Filippynse regering die terroristegroep wat hulle aangehou het, deurentyd gejag. Daar was dus druk op hulle om die gyselaars vry te laat.
“Die media het gereeld oor ons berig, maar in die geval van Calitz en Pelizzari was hulle nie so gereeld in die nuus nie. Wanneer dit só lank aangaan, het mense al vergeet.”
En vir Strydom is daar ná 12 jaar steeds dinge wat haar aan hul traumatiese ervaring herinner.
“As mense verskriklik hard en aggressief naby my praat, skrik ek baie groot.
“Harde slae laat ’n mens nog skrik, want dit is mos alles snellers terug na die trauma.”
Strydom het gesê hulle is deel van ’n gebedsgroep vir gyselaars.
In dié stadium is daar nog ’n Suid-Afrikaner wat sedert November in Mali aangehou word. Sy familie wil nie graag die besonderhede in die media hê nie, gevolglik wou sy nie inligting daaroor verskaf nie.
“Ek dink daar is baie plekke in die wêreld waar nog baie mense aangehou word. Ek dink ontvoering is (helaas) ’n winsgewende besigheid.”
Strydom het verder beskryf hoe hulle mishandel is. “Hulle het in die oggend wanneer ’n mens slaap langs jou kom staan, en dan skiet hulle. Hulle like dit om te sien hoe jy skrik.”
Sy het gesê vir mense wat ’n traumatiese gebeurtenis ervaar het, is dit belangrik dat ’n mens so vinnig as moontlik na jou natuurlike omstandighede terugkeer.
“Dit is beter dat hulle so vinnig as moontlik huis toe kom en net met ’n normale lewe aangaan.”
Volksblad