Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Mynregte: Geding ’n toetssaak

Deur: Philip de Bruin 2012-06-01 05:25

EIENAARS van grond waarop mynbare minerale is, is nié deur die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumbronne van hul mynregte onteien nie.

Só het vyf appèlregters gister in Bloemfontein beslis in ’n geding wat die regters self as “’n toetssaak” beskryf het.

Honderde grondeienaars, veral boere, wat tot met die inwerkingtreding van die wet in 2004 die houers van mynregte op hul grond was – die sogenaamde “ou-orde- mynregte” – het op gister se uitspraak gewag om te besluit of hulle met vergoedingseise weens onteiening teen die staat sou voortgaan. Vir al dié grondeienaars beteken dit dat hulle geen eis teen die staat het nie.

Appèlregters B. Nugent, J. Heher, N. Mhlantla, L. Leach en M. Wallis het in twee uitsprake bevind dat navorsing oor die geskiedenis van mynregte in Suid-Afrika bewys dat die staat nogal altyd die reg gehad het om besluite te neem oor prospekteerregte, mynery en die verkoop van gemynde minerale.

Die nuwe wet het nie die reg om te myn heeltemal van grondeienaars weggevat nie, omdat grondeienaars steeds saam met enige mens wat nié die eienaar van die grond is nie, kan aansoek doen om ’n lisensie om op die betrokke grond te myn.

Dié uitbreiding van die reg om te prospekteer en te myn deur dit oop te stel aan almal, is in ooreenstemming met die regering se beleid om die mynbedryf te transformeer.

Deur die reg om te myn te verleng sodat mense wat tradisioneel nie die reg gehad het om op ’n ander mens se grond te myn nie, nou ook die regte gee om aansoek om mynregte te kan doen, het die regering die “monopolie” wat houers van die ou orde-regte gehad het, beëindig.

Maar dit kom nie op onteiening neer nie, het die regters gesê.

Die regters was nie bereid om Agri SA se argument te aanvaar nie dat grondeienaars nou ont­eien is van hul reg om hul mynregte te verkoop, as sekuriteit te gebruik of om dit aan hul erfgename na te laat.

In dié verband het die regters verwys na die inleiding tot die wet wat lui dat “dit erken word dat Suid-Afrika se minerale en petroleumhulpbronne aan die volk behoort en dat die staat die bewaarder daarvan is”.

Hulle het ook verwys na ’n bepaling in die wet wat lui dat ’n grondeienaar wat meen dat sy grond weens die nuwe bedeling onteien is, steeds vergoeding van die staat mag eis.

Volksblad
«Terug