JOHANNESBURG. – Die omstrede voorgestelde wetsontwerp van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarin landsburgers verbied word om mekaar oor uiterste weersomstandighede te waarsku, gaan herskryf word.
Albi Modise, woordvoerder van die departement van omgewingsake, het gister bevestig Edna Molewa, minister van omgewingsake, het die wetsontwerp na dié departement teruggestuur.
Die wetsontwerp het vroeër vanjaar ’n storm ontketen oor voorstelle dat landsburgers tronkstraf opgelê of met miljoene beboet kan word as hulle mekaar sonder die skriftelike toestemming van die SAWD teen uiterste weersomstandighede of lugbesoedeling waarsku.
Modise het gesê die wetsontwerp is in Mei verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer, maar dit het weinig reaksie van die burgerlike samelewing ontlok. Die departement het glo net kommentaar van twee belanghebbendes ontvang.
Dit het tot gevolg gehad dat verskeie voorstelle vir wysigings in die parlement geopper is. “As die parlement dié wysigings aangebring het, sou dit heeltemal verskil het van die wetsontwerp wat aan landsburgers vir kommentaar voorgelê is,” het Modise gesê.
Molewa het daarom, “in die belang van die daarstel van goeie wette”, besluit om dit na die departement terug te stuur.
Volgens Modise kan sommige van die oorspronklike voorgestelde wysigings ook baat vind by verdere navorsing.
Gareth Morgan, DA-woordvoerder oor omgewingsake, wat die oorspronklike voorstelle as “drakonies” en “lagwekkend” beskryf het, het die minister geloof vir haar insig om die wetsontwerp na die departement terug te stuur.
Modise het vroeër gesê die departement was nie “dié hewige reaksie en kommer” oor die strafmaatreëls wat in die wet opgeneem sou word, te wagte nie.
Volgens hom sal die voorgestelde wysigings aan die oorspronklike teks nou aangebring word, waarna dit weer in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer sal word.
Die departement sal ook daarvoor sorg dat ’n meer “gefokusde” interaksie plaasvind met dié partye wat voorstelle aan die parlement oor die wetsontwerp gemaak het.
Die wysigingswetsontwerp sal, nadat die burgerlike samelewing kommentaar daarop gelewer het, weer aan die kabinet voorgelê en in die parlement ter tafel gelê word.
Volksblad