PORT ELIZABETH. – Die hoof van die weermag se gevegsopleidingsentrum by Lohatlha in die Noord-Kaap en die minister van verdediging moet duisende opdok ná ’n voorval in 2007 waarin ’n senior offisier in die openbaar verneder is.
Die voormalige adjunk-bevelvoerder van die Baaise weermagbasis, lt.kol. Eugene Weitz, kon dié week eindelik oorwinning smaak ná sy jare lange hofstryd teen brig.genl. Nontobeko Mpaxa.
Landdros NP Jiji het in die siviele hof in Port Elizabeth gelas Mpaxa, nou van Lohatlha, en die minister van verdediging moet R50000 aan Weitz uitbetaal vir die manier waarop sy hom in 2007 ten tyde van ’n parade verneder het.
Mpaxa was in daardie stadium Weitz se bevelvoerder.
Weitz, wat sedertdien medies ongeskik verklaar is, het gister aan Volksblad gesê hy is dankbaar oor die uitspraak en hy hoop die weermag tree dissiplinêr teen haar op.
“Ek was seker een van die mees passievolle lede in die diens, maar my toekoms is summier kortgeknip en vertrap. Dit sal interessant wees om te kyk hoe sy verder die leertjie na sukses klim.”
Luidens hofstukke is Weitz sedert 2003 met ritse aanklagte en aantygings gepeper. Dit was oor onder meer diefstal, korrupsie, bedrog, onwettige besit van staats-eiendom en ook dat hy minister Marthinus van Schalkwyk ’n idioot sou genoem het. Ná ondersoeke oor al dié aanklagte en aantygings is Weitz vrygespreek.
In 2007 het Mpaxa hom egter uit die bloute ingelig hy is geskors en dat al die sake teen hom heropen gaan word. Sy was egter nie by magte om dit te doen nie.
Sy het daarna op die paradeterrein, ten aanhore van al Weitz se ondergeskiktes, oor die luidspreker aangekondig hy is geskors en al die klagte teen hom ook oor die luidspreker uiteengesit.
Luidens hofstukke het dié aankondiging ’n opskudding veroorsaak onder die meer as duisend man onder Weitz se bevel en is sy reputasie onherstelbaar beskadig.
Hy moes vir spanning behandel word en is uiteindelik medies ongeskik verklaar. Dít en die koste om homself teen die klagte te verdedig, het Weitz finansieel geknou.
’n Lid met 37 jaar diens in die weermag het namens hom getuig dit was die eerste keer in sy loopbaan dat ’n lid se skorsing op dié manier aangekondig word.
Mpaxa het nie getuig nie en bloot in hofstukke aangevoer haar optrede was regmatig, nie kwaadwillig nie en in openbare belang.
Adv. Pikkie Greeff, nasionale sekretaris van die SA Nasionale Weermag-unie, het gesê dit wil voorkom of Mpaxa onaantasbaar is. “In 2009 is sy weens dronkbestuur aangekeer, maar die klagte het net verdwyn.”
Genl. Xolani Mabanga het gesê die weermag is nog besig om die uitspraak te bestudeer en Mpaxa se enigste kommentaar was: “Goodbye and enjoy the rest of your evening.”
Volksblad