REDDERSBURG. – ’n Pa van drie jong kinders is gisteroggend in ’n fratsongeluk by sy werk in ’n houtwerkfabriek dood toe ’n vrag melamienborde op hom geval en hom vasgepen het.
Karel (Kallie) Kleingeld (41) het gister vroegoggend in die werkwinkel plek gemaak vir materiaal wat afgelewer is, toe die ongeluk gebeur het, sê sers. Ikobeng Hlubi van die polisie.
André Visser, woordvoerder vir ER24, sê paramedici is ontbied, maar Kleingeld was reeds dood.
Hy het aan veelvuldige inwendige beserings beswyk.
’n Hartseer Philip van Niekerk, eienaar van Woodpro, het gister gesê Kleingeld was die beste werksvriend wat hy nóg gehad het.
Hy sê die ongeluk is ’n groot skok.
“Dit is die eerste keer dat só iets gebeur.”
Van Niekerk sê Kleingeld het plek gemaak vir materiaal wat afgelewer is. Die melamienborde, wat regop gestaan het, het omgekantel en Kleingeld teen ander borde vaspen.
Van Niekerk sê hy en werkers van ’n staalonderneming het inderhaas die borde van Kleingeld afgehaal en mediese hulp ontbied. “Hy was só ’n stunning mens. Jy kon hom in die nag bel, hy sou jou kom help. Ek kon nie vir ’n beter werknemer en vriend gevra het nie.”
Kleingeld word oorleef deur sy vrou, Karen, dogter Jean-Marie (16), seun Neil (13) en dogter Karla (11). Al drie die kinders is leerlinge aan die Landbouskool Hendrik Potgieter op die dorp.
Karen se susterskind Marlé van Straaten (16), ’n leerling aan die Hoër Meisiesskool Oranje, het gister presies ’n jaar en ’n maand gelede in ’n motorongeluk in Bloemfontein gesterf.
Volksblad