KAAPSTAD.– Jy gaan waarskynlik binnekort jou identiteit moet bewys om jou rybewys geldig te hou – byna soos die Rica-stelsel vir selfone.
Dit is een van die voorgestelde wysigings aan die Nasionale Padverkeerswet wat verlede week in die Staatskoerant afgekondig is.
Motoriste sal 12 maande kry, vanaf die finale afkondiging van die gewysigde wet, om hul volle name, adresse, ID-nommer en geboortedatum aan ’n lisensieringsowerheid te bewys.
Adresveranderings sal ook binne 21 dae aangemeld moet word.
Nog ’n noemenswaardige toevoeging tot die wet is die voorstel dat voertuie ouer as 10 jaar elke twee jaar weer ’n padwaardigheidstoets sal moet ondergaan. Dit geld nie veteraanmotors nie.
Die AA het gister gesê hy is baie ten gunste hiervan, aangesien onpadwaardige voertuie vir baie ongelukke verantwoordelik is. “Natuurlik is daar ’n koste vir die verbruiker, maar ek dink in dié geval is veiligheid ’n versagtende faktor,” het Gary Ronald, AA-woordvoerder, gesê.
Voertuie wat permanent gesloop is, sal ook nie weer geregistreer mag word nie. Onderdele van sulke voertuie sal ook nie gebruik mag word om ander voertuie te bou of te herstel nie.
Voertuigeienaars moet hul registrasieowerheid binne drie maande in kennis stel van ’n voertuig se sloping.
Teendiefstaltoestelle wat ’n uitwerking op ’n voertuig se remstelsel het, sal onwettig verklaar word.
’n Verdere voorstel is dat nuwe bestuurders tydelike rybewyse ontvang wat vir ’n jaar geldig is. In dié tydperk kan die voorlopige rybewys vir 24 maande opgeskort word as die bestuurder onder meer ses verkeersoortredings begaan, of:
) onder die invloed van dwelms of drank bestuur of selfs net na drank ruik;
) die snelheidsgrens oorskry;
) ’n voertuig met te veel passasiers oorlaai; en
) tussen middernag en 04:00 bestuur.
Ronald het gesê die AA het al twee jaar gelede só ’n regulasie versoek.
Bestuurskole, asook vervaardigers van nommerplate, gaan ook strenger gereguleer word.
Die kwessie van oorwerkte bus- en vragmotorbestuurders word in die wysigings aangepak.
Die wysigings sluit ’n perk in van vyf uur aaneenlopende bestuur of 15 uur per 24 uur, wat van toepassing sal wees op die bestuurders van vragmotors swaarder as 3,5 ton en busse. Dié bestuurders sal ook hul tyd agter die stuur in ’n logboek moet aanteken.
Volgens Ronald reguleer die bedryf dié tye tans self en is dit nie wetlik bindend nie.
“Dit bring ons nou in pas met die Amerikaanse en Europese wette,” het hy gesê.
) Die spertyd vir kommentaar op die wysigings is 6 Julie.
Volksblad