JOHANNESBURG. – Pippie Kruger is wakker en haal self asem en dit gaan goed.
Byna twee weke ná die baanbreker-operasie waarin gekloonde vel op die gebrande dele van Pippie se lyfie oorgeplant is, het sy gisteroggend haar oë oopgemaak.
Haar ouers, Anice en Erwin Kruger, was daar.
Pippie is gisteroggend bygebring deur die toediening van verdowingsmiddels te staak.
Erwin sê sy het gekreun toe hulle die ventilator se pyp uitgehaal het, maar andersins gaan dit baie goed met haar.
“Ons was glad nie bekommerd nie, glad nie,” het Erwin gistermiddag gesê.
Anice, wat vir die laaste ses maande elke dag by haar dogter in die hoësorg-eenheid van die Netcare-Garden City-hospitaal was, was volgens haar man baie bly toe Pippie haar oë oopmaak.
Pippie is gistermiddag weer onder verdowing geplaas terwyl dr. Ridwan Mia, die plastiese chirurg wat die operasie gedoen het, haar verbande omgeruil het.
Mia het Maandag Pippie se onderste laag verbande in die teater geruil en die hakies wat haar nuwe vel vasgeheg het, verwyder.
Dit het meer as vier uur geduur.
Meer as 90% van die nuwe vel het suksesvol geheg.
Mia het gister gesê Pippie se arms sal vir eers nog gespalk moet bly om te verhoed dat sy te veel beweeg.
“Met ’n gewone veloorplanting kon ons dalk al van die wonde oopgehou het, maar dié vel is so delikaat dat ons ekstra versigtig moet wees.”
Mia sê Pippie is nog ’n bietjie deurmekaar en dit sal ’n paar dae neem voordat sy weer sal begin praat.
Pippie se boetie, Arno, woon by Anice se ouers op Lephalale (Ellisras). Hy het eergister sy eerste verjaardag gevier, maar omdat Pippie in daardie stadium nog op die ventilator was, het Anice en Erwin besluit om in Johannesburg te bly.
“Ek is seker hy (Arno) sal ons vergewe,” het Erwin gister gesê.
Arno en albei pare oumas en oupas was gisteraand op pad Johannesburg toe om vir Pippie te kom kuier.
• Lees ook die rubriek Wat’s jou storie.
Volksblad