JOHANNESBURG. – ’n Jong buffelbul is Saterdag vir ’n rekordbedrag van R26miljoen op ’n veiling by Mbizi Lodge buite Bela-Bela verkoop.
Horison die buffelbul is die duurste wilde dier wat tot nog toe in Suid-Afrika verkoop is. Horison is R8miljoen duurder as die buffelbul Senatla wat byna ’n jaar gelede vir R18miljoen op ’n veiling buite Thabazimbi verkoop is.
Horison is vier jaar en tien maande oud en het reeds ’n horingspan van byna 51 en ’n half duim (sowat 113cm). Senatla se horingspan was 50duim (110cm).
Volgens Norman Adami, woordvoerder van die Vereniging van Stoetwildboere, is die rekordprys wat vir Horison betaal is, ’n bewys van mense se vertroue in die bedryf.
Horison is geteel deur Jacques en Carolien Malan. Malan is ’n bekende wildboer en voormalige uitvoerende hoof van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA). Piet du Toit en twee wildboere van Rustenburg het Horison gekoop.
Luidens ’n verklaring deur Vleissentraal, die afslaers wat die veiling behartig het, is sewe rekordpryse Saterdag behaal en drie is geëwenaar.
Die omset van die veiling was R122280000 miljoen.
Volgens Adami is wild van dié gehalte ’n uitstekende belegging en is dit boonop ’n volhoubare soort boerdery wat jaarliks sowat R10miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bydra.
Volksblad