Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Seun van Bfn het glo ma vermoor

Deur: Mike van Rooyen 2012-06-18 22:56

’n SKOKVERHAAL van hoe ’n jong Bloemfonteiner sy ma met ’n mes doodgesteek en daarna in ’n kuierplek in Bloemfontein gaan drink het om ’n alibi te kry, het hom gister in die Vrystaatse hooggeregshof ontvou het.

“Toe ek bykom, sien ek dat ek met ’n mes in die hand staan en my klere was vol bloed,” het Stefan Croucamp (25) aan kapt. Francois Laux beskryf wat die nag van 23 April 2010 in sy ma, Denise Seaward (59), se Bethanie-meenthuis in Langenhovenpark gebeur het.

Hy het ook vertel hoe hy die volgende dag skoonmaakmiddels en petrol gekoop, die bloed in die woonstel afgewas en die petrol gebruik het om sy ma se kamer aan die brand te steek.

Gister het hy egter voor waarnemende regterpresident Faan Hancke skuld op aanklagte van moord, roof en brandstigting ontken.

Hy het ’n alibi dat hy dié nag by verskeie kuierplekke in Westdene gekuier het.

Daarna het hy by sy losiesplek geslaap. Van die brand het hy eers later gehoor.

Lt.kol. Christo Naudé, die ondersoekbeampte, het getuig dat Croucamp op 27 Augustus verlede jaar aan hom gesê het dat hy sy ma doodgemaak het en daaroor wil praat. “Hy het gesê dat dié ding lankal op sy hart druk en dat hy dit wil laat verbygaan. Die waarheid moet uitkom.”

Hy het sy ma se lyk aan die brand gesteek om getuienis uit te wis.

Naudé het getuig dat Croucamp heeltemal rustig was en gevra het wat met hom gaan gebeur en ook of hy in die tronk verder sal kan studeer.

Uit stellings van mnr. Dawie Reyneke, sy regsverteenwoordiger, blyk dit dat Croucamp beweer dat hy dié hele storie “opgemaak” het omdat hy honger en sonder verblyf was. Hy het pas uit aanhouding op ’n diefstalklag gekom.

Sy plan was om kos en verblyf in die tronk te kry. “Hy sê hy besef nou dit was nie ’n goeie plan nie,” het Reyneke gesê.

Laux het getuig dat Croucamp aan hom vertel het dat hy die nag van sy ma se dood baie dronk was. Hy was alleen by haar.

Hy het ander klere aangetrek en die bebloede klere en die mes in ’n plastieksak gesit en dit weggegooi. Hy het haar handsak ook gevat.

Haar selfoon het hy in Langenhovenpark by die motorvenster uitgegooi. Met haar bankkaart het hy geld getrek.

Hy het toe weer gekuier. “Ek wou vir my ’n alibi skep om te wys dat ek saam met my vriende was.”

Die volgende dag het hy besef hy het sy ma doodgemaak.

Voordat hy haar aan die brand gesteek het, het sy ma teen die venster op die vloer gelê. Sy was reeds dood.

Adv. Francois Pienaar kla aan. Dr. Brand Claassen en adv. Denise Greyling staan regter Hancke as assessore by. Die verhoor duur voort.

SÓ SKRYF SEUN:
Pappas is daar om ons iets van God te leer.
Om ons te dissiplineer en te vergewe keer op keer.
Help my dat ek deur wat pappa my wys, God sal sien.
Dat ek daardeur leer hoe om Hom te dien.
My gebed is dat God pappa ryklik sal seën.
Dat sy gawes en genade op pappa sal neer reën.
Weet net ek is sommer baie lief vir jou.
Mag God jou in sy liefdevolle arms toevou.
Lief pappa baie.

Volksblad
«Terug