“Ek is jammer ma, ek wil nie meer lewe nie. Ek wil met mama euna wees en pa ni (Nico)...”
Só lui die boodskap wat ’n 14-jarige meisie van Heidedal, Bloemfontein op haar nuwe selfoon gelos het voordat sy Maandag selfmoord gepleeg het. Sy wou dit in ’n SMS-boodskap aan haar ma stuur, maar het dit nooit gedoen nie.
Darné McMolale (14), ’n gr.8-leerling aan die Hoërskool Petunia, het haarself in haar ouerhuis met een van haar ma se serpe opgehang nadat sy glo pille gedrink het.
Sy is deur haar ouma, Euna, en oupa, Nico, grootgemaak tot op vyfjarige ouderdom. Hulle is intussen oorlede.
Darné is die tweede meisie van dié skool wat vandeesmaand selfmoord gepleeg het. Leonie Peters (17), ’n gr. 10-leerling, het vroeër vandeesmaand haarself ook met ’n gordel in haar ouerhuis opgehang.
Nog ’n meisie het vroeër ook glo selfmoord probeer pleeg deur ’n oordosis slaappille te drink. Sy is betyds deur haar ouma gevind en is na die hospitaal gebring. Sy is intussen ontslaan.
Volgens mev. Heidi McMolale, Darné se ma, het haar dogter geen tekens van depressie of ontsteltenis getoon nie. Haar dogter se skielike dood is ’n skok vir haar en baie ander mense.
“Sy het Maandag vroeg van die skool af gekom en wou nie saam met ons dorp toe gaan nie. Sy het gesê ons moet haar in die huis toesluit, sy gaan slaap. Sy het nie snaaks of ontsteld gelyk nie.”
Darné is deur haar 8-jarige broer, Danian, en mev. McMolale se vriend, mnr. Desmond Bergman, gevind waar sy aan die veiligheidshek in die gang gehang het.
Mev. McMolale, ’n verpleegster by die Mediclinic Bloemfontein, het onmiddellik haar dogter afgehaal en mond-tot-mond-asemhaling toegepas.
“Sy was toe reeds yskoud en blou. ’n Mens wil jou kind se lewe red. As sy maar net met my kom praat het, kon ek iets gedoen het. Met die manier hoe sy die serp gebind het, het sy seker gemaak dit kom nie los nie.”
McMolale was gister steeds bewoë. Sy gaan haar vriendelike en vrolike mis, sê sy.
)Me. Caroline Peters, Leonie se ma, het gesê haar dogter was nie haarself op die dag van haar dood nie. “Sy het die kaste se laaie omgekrap, maar wou nie vir ons sê wat is fout nie. Ek het haar maar gelos om alleen te wees.”
Leonie was baie lief vir skryf en het altyd saam met haar ma en jonger broer, Luciano (8), in die huis gesing en gedans.
)Me. Zane Wilson, stigter van die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag), het gesê daar is daagliks 23 selfmoorde in die land.
“Meer as 300 mense probeer daagliks om hul lewe te neem en 23 slaag daarin. Dit is sleg en meer moet gedoen word om dit te keer.”