Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

'Sluit pad tussen Bultfontein, Wesselsbron'

Deur: Tom de Wet 2012-07-22 22:55
BULTFONTEIN. – Dit is net genade dat niemand nog op die onvoltooide pad tussen dié dorp en Wesselsbron verongeluk het nie.

Vrystaat Landbou (VL) het nou by die departement van vervoer aansoek gedoen dat dit heeltemal vir openbare vervoer gesluit word.

Die rede hiervoor is dat die twee stop-en-ry-beheerstelsels wat op die oorblywende 10km van die pad was, nou ook deur die subkontrakteurs, Roadcrete, verwyder is.

Roadcrete het geruime tyd gelede reeds bouwerk aan die pad gestaak omdat SSI Engineers and Environmental Consultants en Tshepega Civil Engineers, die oorkoepelende bestuur vir verskeie padprojekte in die Vrystaat, nie deur die Vrystaatse regering betaal is nie.

Die pad sou teen R188,6miljoen herstel word. Die Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer is reeds vir R44,7 miljoen se agterstallige betalings gedagvaar.

Kobus Steenkamp, voorsitter van die distriklandbou-unie, sê boere het op die jongste vergadering baie oor die toestand van die pad en die gevaar wat dit inhou, gekla.

Daar is gevolglik besluit om te vra dat die pad heeltemal vir openbare verkeer gesluit word.

Die onttrekking van die beheerstelsels maak die pad uiters gevaarlik, in so ’n mate dat motors heeltemal vir aankomende vragmotors van die pad moet trek.

Op die oorblywende 10km wat net aan die linkerkant geteer is, is groot klippe aan die regterkant deur die kontrakteurs aangebring om voertuie te keer om daar te ry en die oppervlak te beskadig.

Verkeer van albei kante ry nou op die geteerde linkervlak wat nie breed genoeg vir tweerigtingverkeer is nie.

David Ross, DA-LP, sê dié party het Butana Komphela, LUR, gister gevra om die aangeleentheid rakend herstelwerk aan die pad in heroorweging te neem en die nodige stappe te doen om dit te laat voltooi.

“Dit is onaanvaarbaar dat die kontrakteurs aan wie die tender toegeken is, nie betaal is nie.”

Xolile Walaza, woordvoerder van die departement, sê hy wag vir terugvoer van die betrokke departement voordat hy kommentaar kan lewer. 
«Terug