Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Staker het eerste geskiet, wys materiaal

Deur: Lourensa Eckhard 2012-08-22 22:07

JOHANNESBURG. – Beeldmateriaal wat deur die Al Jazeera-televisiekanaal uitgesaai is, toon ’n mynwerker van die Lonmin-myn by Marikana naby Rustenburg wat moontlik op die polisie geskiet het voordat die polisie op die werkers begin skiet het.

Volgens ’n persoon wat agter die kameraman gestaan het, het die werker beslis ’n skoot afgevuur.

Die persoon het aan Volksblad bevestig dat dié man in hul rigting, waar hulle agter die polisie gestaan het, geskiet het.

Daarna het die polisie rubberkoeëls na die groep mynwerkers geskiet om die stakende, gewapende mynwerkers uiteen te jaag.

Toe die groep mynwerkers steeds nie wou terugstaan nie, het die polisie met skerppunt-ammunisie op hulle begin skiet. Altesame 34 mense is doodgeskiet en 78 beseer.

Volgens die persoon het die polisie eers rubberkoeëls op die groep mynwerkers afgevuur, maar sekondes nadat die stakende mynwerker op die beeldmateriaal ’n skoot op die polisie afgevuur het, het die polisie op die mynwerkers begin skiet.

Dit was vroeër onduidelik of die mynwerkers eerste geskiet het.

Genl. Riah Phiyega, nasionale polisiehoof, het op ’n mediakonferensie gesê daar is besluit dat die polisiediens sy lede wat langs die betogers was, moes beskerm.

“As kommissaris het ek die polisie die verantwoordelikheid gegee om die taak uit te voer wat hulle moes,” het sy gesê.


Volksblad
«Terug