BETHLEHEM. – ’n Jong man van die dorp wat aan die Universiteit van Pretoria studeer en vir die langnaweek by sy familie kom kuier het, is buite die dorp in ’n motorongeluk dood.
Mnr. Tsietsi Mokoena, van in die twintig, is Saterdag op die R26 buite Bethlehem dood toe die motor waarin hy was, gerol het.
Volgens mnr. Jeffery Wicks, Netcare911-woordvoerder, het die BMW verskeie kere gerol en sowat 30m van die pad af in die veld tot stilstand gekom.
Vier vroue wat saam met Mokoena in die motor was, is in die ongeluk beseer.
Mev. Karien Collett, woordvoerder van die Mediclinic Hoogland, sê twee vroue is vir kneuswonde behandel en reeds uit die hospitaal ontslaan.
Die ander twee vroue is in die Dihlabeng-hospitaal opgeneem.
Mokoena se dood bring die padsterftesyfer die naweek in die Oos-Vrystaat op 13 te staan.
Elf mense, onder wie vyf mans, vier vroue en twee kinders, is Vrydagmiddag dood in ’n botsing tussen ’n minibus en ’n motor op die N3 buite Warden.
Nog ’n man het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Nog 11 mense is beseer.
Sewe van die beseerdes is met ernstige beenbreuke in die Manapo-hospitaal. Nog ’n beseerde man is met ’n gebreekte arm in die Thebe-hospitaal op Harri-smith. Die ander drie beseerdes is almal reeds uit dié hospitaal ontslaan, sê mnr. Fanyana Moloi, hospitaalhoof.
Volksblad