Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Suid-Afrika vier goue sportdag

Deur: Christo Buchner 2012-07-22 23:09

LONDEN. – Manjifiek, Hashim Amla en Ernie Els.

In ’n goue dag vir Suid-Afrikaanse sport het Amla een van die merkwaardigste individuele vertonings in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse sport gelewer deur ’n onoorwonne 311 lopies binne 13 uur en 9 minute hier teen Engeland te slaan.

En op sy beurt is Els ná ’n dekade weer die Britse Ope-kampioen ná ’n merkwaardige terugvegpoging op die Royal Ly-tham & St. Annes-gholfbaan.

Die 29-jarige Amla het gister hier op die Oval in Suid-Afrika se eerste beurt van die eerste toets teen Engeland die eerste kolwer in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse toetskrieket geword wat by 300 lopies in ’n kolfbeurt uitkom.

Hy is staande toegejuig deur ’n stampvol stadion ná hierdie geskiedkundige oomblik in Suid-Afrikaanse krieket.

Die vorige rekord was die onoorwonne 278 wat AB de Villiers in 2010 teen Pakistan in Abu Dhabi behaal het.

Hy en Jacques Kallis (182*) het ook ’n onoorwonne rekord-vennootskap van 377 om die derde paaltjie daargestel en daarmee twee rekords wat al sedert 1947 staan uit die boeke gevee.

Dit was Alan Melville en Dudley Nourse se SA rekord van 319 teen Engeland en ook die hoogste vennootskap hier in Engeland deur enige span, wat die Engelse paar van John Edrich en Denis Compton (370) op Lords teen SA geslaan het.

Toe Kallis sy 43ste toetshonderdtal behaal het, het hy met sy vinger na sy oog gewys en daarmee erkenning gegee aan sy groot vriend Mark Boucher, wat weens ’n ernstige oogbesering nie meer deel van hierdie toer is nie.

Amla en Kallis het die Engelse boulers moedeloos geslaan.

Hul vier voorste boulers het ook almal meer as ’n 100 lopies afgestaan en dit is ook die eerste keer nóg dat Engeland twee agtereenvolgende vennootskappe van meer as 350 lopies afgestaan het.

Amla en sy kaptein, Graeme Smith (131), het 259 lopies om die tweede paaltjie gedeel.

Smith het met sy 25ste toetshonderdtal, waarvan sewe teen Engeland en vyf hier in Engeland, ook die sewende kolwer nóg geword wat ’n honderdtal in sy 100ste toets slaan.

Oor Amla se marathon-beurt is daar gister hier grappenderwys gesê dat hy skoongeskeer was toe hy begin kolf het.

Volksblad
«Terug